Die Argentynse losskakel Tomás Albornoz is in die moeilikheid ná ’n omstrede voorval tydens die Poemas se 31-24-nederlaag teen Engeland in ’n Nasieskampioenskap-wedstryd die afgelope naweek.
Nadat skeidsregter Angus Gardner, op advies van die TV-skeidsregter, ’n Argentynse drie in die doodsnikke van die wedstryd ongedaan gemaak het, het Albornoz Gardner gekonfronteer. Wêreldrugby het die voorval in ’n ernstige lig beskou.
“Tomás Albornoz is van wangedrag aangekla ná Argentinië se Nasieskampioenskap-wedstryd teen Engeland by Estadio Único Madre de Ciudades in Santiago del Estero op 18 Julie 2026,” lui ’n verklaring van Wêreldrugby.
“In ooreenstemming met die bepalings van die sanksieproses vir misbruik van wedstrydbeamptes hou die aanklagte verband met gebeure ná die eindfluitjie. Albornoz is gesien waar hy ná die wedstryd die wedstrydbeamptes konfronteer.
“Die besonderhede van die verhoor sal binnekort bevestig word.”
Die saak val onder Wêreldrugby se sanksieproses vir wangedrag teenoor wedstrydbeamptes, wat daarop gemik is om ’n duideliker en meer konsekwente raamwerk te bied vir die hantering van wangedrag teenoor wedstrydbeamptes, insluitend konfrontasies en openbare kritiek wat tot breër aanlyn wangedrag kan bydra.
