Terwyl aftrede ’n rustiger pas vir menige beteken, is dit nie so vir Hennie van Eck (70) nie.
Nee, vir die afgetrede prokureur van Gqeberha was aftrede die begin van ’n epiese reis van duisende kilometers wat hy in sarsies van drie weke op ’n slag op sy bergfiets op verlate grondpaaie in die spore van ’n ou ontdekkingsreisiger ry.
Net hy, ’n tent, kos en gasstofie en opblaasmatras met die eensame Noord-Kaap as geselskap. Dis nou as gulhartige boere hom nie langs die pad opraap en ’n ordentlike matras en bord kos aanbied en hom ’n nag in die koue veld spaar nie.
Van Eck het pas die eerste 1 300 km-been van sy reis voltooi, een wat hy soos beroemde 19de-eeuse natuurkundige en ontdekkingsreisiger William John Burchell ook op 19 Junie begin het. Van Eck in 2026 en Burchell in 1811.
Soos Burchell het Van Eck by die Lutherse Kerk in Kaapstad weggespring en Schmidtsdrif teen 20 Julie bereik. Vandaar is hy eers huis toe, hy het immers pas oupa geword. Hy sal weer oor ’n maand of so van daar verder ry in die rigting van Botswana.
“Die rit was so bevrydend, ná 45 jaar in die tuig. Geen druk, opponente in die hof of sperdatums nie, net ek alleen waar ek kan asemhaal. Salig verby. Ek het weer eens besef watter wonderlike mense in ons land woon.
“My enigste fokus is die sonsopkoms, die wind, die voëls en die volgende kampplek. Geen selfone, mense, of verwagtinge nie. Sommige dae het ek in 100 km afstande niemand gesien nie,” sê hy.


Burchell ’n merkwaardige wetenskaplike
Burchell het destyds met sy pasgemaakte ossewa, skaap en werkers stadig oor die landskap gereis. Die geselskap moes berge, riviere en ander hindernisse oorkom. Hy was ’n merkwaardige wetenskaplike wat oor vyf jaar meer as 7 000 kilometer afgelê het en sowat 63 000 eksemplare of monsters van plante, diere en insekte versamel het. Sy lewensgetroue tekeninge van plekke word tot vandag toe bestudeer, plekke wat Van Eck ook besoek het.
Burchell se monsters en dokumente is na die universiteit in Oxford gestuur. Hy het twee volumes oor sy “Outward Journey” (heenreis) gepubliseer, en nooit sy beplande derde volume voltooi om die hele ekspedisie te dokumenteer nie.
Die taak om die terugreis te voltooi, is onlangs deur dr. Roger Stewart en Marion Whitehead aangepak. Hulle het ’n boek geskryf gebaseer op Burchell se bevindings en rekords van sy terugroete.
Van Eck moet ook hindernisse oorkom. “Dit het maande geneem om die roete, toerusting, klere en kos te beplan, niks wat te swaar is nie.”

Hy het met ’n langhouhemp met ’n kraag gery om sy nek teen die son te beskerm, en ’n fietsrybroek met oprolbroekspype as dit koud is. Die beddegoed is ’n hoë-tegnologie opblaasmatras om hom teen die koue grond te beskerm, sakkies kitskoffie, blikkies sardyne, kitsnoedels en -sop wat hy op sy stofie warm maak. Biltong en droëwors gee proteïene en water kry hy uit plaasdamme en krippe langs die pad.
Om koers te hou, gebruik Van Eck moderne tegnologie wat op die eeue-oue data van Burchell en moderne kaarte gegrond is. Hy het ’n GPS-toestel op sy fiets wat vooraf gelaai is met koördinate wat deur dr. Stewart, ’n kenner van Burchell, oor 15 jaar nagevors is.
“Ek vergelyk moderne navigasie met Burchell se metodes, wat sy kompas en sterrelesings en die tel van wielomwentelings ingesluit het om sy geo-posisie te bepaal.
“My vrou, Mary, skud steeds haar kop oor my reise oor die jare heen. Sy, my kinders, en die res van die familie het my reis op ons WhatsApp-groep meegemaak. Dié groepsgetal het intussen gegroei soos mense wat ek ontmoet het ook ingesluit word.”
Gelukkig is Van Eck ’n fikse man wat al 12 Ysterman-driekamp-byeenskomste en 14 Comrades-wedlope voltooi het.
