Sowat 3 000 werksgeleenthede in gedrang sou inmaakfabriek deure sluit

Vrugte.
Foto ter illustrasie: Unsplash.

Die beoogde sluiting van Premier Foods se Fruits Products Western Cape (FPWC)-aanleg in Tulbagh plaas sowat 3 000 permanente en seisoenale werksgeleenthede by die aanleg, sowel as die poste van plaaswerkers, in die gedrang.

Die VF Plus in die Wynlande sê in ’n verklaring dat die party se kommer oor die beoogde sluiting van FPWC reeds tot dringende gesprekke om die aanleg te red, gelei het.

Luidens die verklaring het die betrokke onderneming voorheen aan die Rhodes Food Group behoort, maar is vroeër vanjaar deur Premier oorgeneem, wat dit sedertdien onder die naam FPWC bedryf. Appelkose, perskes en pere word hier verwerk.

Sowat 3 000 permanente en seisoenale werksgeleenthede by die aanleg, sowel as die poste van plaaswerkers is in gedrang.

Die party sê dié sluiting gaan nie net ’n wesenlike impak op die streek se ekonomie hê nie, maar ook op die breë landbousektor in die Wes-Kaap.

Die VF Plus sê voorts die party het verneem dat skrywes op kort kennisgewing aan personeel gestuur is, rakende gesprekvoering wat spoedig sou plaasvind. Slegs ’n dag later is reeds begin om toerusting van die perseel te verwyder. 

Volgens die party word die negatiewe impak van die sluiting vererger omdat ’n aanleg wat sap vir die uitvoermark voorberei, daarby ingesluit is.

“Om aan hierdie markte te voorsien, is driejaarkontrakte met produsente gesluit. Premier Foods het egter aangedui dat hulle dié kontrakte nie gaan nakom nie. In so ’n geval sal produsente reeds in die 2026-’27-seisoen met die vrugte opgeskeep wees.

“Dit volg daarop dat produsente honderdduisende rande aan voorbereiding van grond en boorde vir die opkomende oes bestee het juis om húlle kant van die kontrakte na te kom. Hulle gaan nou noodgedwonge sit met vrugte wat nie ingeneem kan word nie.”

Nuwe markte nodig

Die VF Plus sê na raming sal nuwe markte vir 55 000 en 60 000 ton vrugte gevind moet word. Produsente sal in dié laat stadium vir die gelag moet betaal.

Die party sê hy neem aksie op twee vlakke: “Eerstens is die eensydige en roekelose besluit onaanvaarbaar. Die party dring daarop aan dat gesprekke voortgaan, sonder ’n voorafbepaalde uiteinde van sluiting.

“Tweedens neem die party die voortou om alternatiewe oplossings te vind om die bedryf van finansiële ondergang te red.

“ ’n Oplossing, soortgelyk aan die een by Langeberg Foods, toe 2 500 werksgeleenthede met ’n moontlike sluiting in gedrang was, is noodsaaklik. In daardie geval is die onderneming gered.”

Die VF Plus sê indien die sluiting voortgaan, sal die negatiewe gevolge nie net in Tulbagh se direkte omgewing gevoel word nie, maar selfs so ver as die Langeberg. Volgens die party doen hy reeds sy uiterste bes om dit te voorkom.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie