Hofbevel keer afbakening van nuwe munisipaliteit in Suid-Vrystaat

Ter illustrasie: Ekaterina Bolovtsova/pexels.com
Ter illustrasie: Ekaterina Bolovtsova/pexels.com

Volgens ’n bevel in die Vrystaatse hooggeregshof op Donderdag, 6 Augustus, sal die nuwe munisipaliteit wat vir die Xhariep-distrik in die Suid-Vrystaat beplan is, eers in 2031 gevestig word.

Die bevel volg ná ’n ooreenkoms tussen onder meer die Vrystaatse regering en die herafbakeningsraad nadat die departement van samewerkende regering en tradisionele sake (Cogta) ’n dringende aansoek vir ’n interdik teen die verdeling van die Kopanong-plaaslike munisipaliteit in twee munisipaliteite gebring het.

Die Kopanong Plaaslike Munisipaliteit se setel is in Trompsburg en die ander dorpe wat onder die munisipaliteit val is Bethulie, Edenburg, Fauresmith, Gariepdam, Jagersfontein, Philippolis, Reddersburg en Springfontein.

Ingevolge die ooreenkoms sal die komende munisipale verkiesing volgens die grense van Kopanong in die 2021 verkiesing se wyk- en munisipale grense plaasvind.

Armand Cloete, ’n lid van die VF Plus in die Vrystaatse Wetgewer, sê hoewel dié party hom beywer vir meer en kleiner munisipaliteite, sou die verdeling van Kopanong in twee munisipaliteite nie die nodige verandering bring nie.

“Tans bestaan die munisipaliteit uit nege dorpe. Dienslewering is vir jare reeds ’n krisis en die ANC het geen plan om iets te doen aan die munisipaliteit se enorme skuldlas nie,” sê Cloete.

Die hele distrik gaan gebuk onder armoede en ’n gebrek aan ekonomiese groei. ’n Nuwe munisipaliteit gaan nie noodwendig groei verseker nie, meen hy.

Cloete sê die Suid-Vrystaat het dringende oplossings nodig soos vrye-ekonomiese sones en beleggings uit die privaat sektor.

Die Vrystaatse regering, Kopanong en die Xhariep-distrik sal groei moet bewerkstellig om die ekonomie daar te red.

Soos in die verlede sal daar dus ’n enkele munisipaliteit met nege wyke wees vir die verkiesing op Woensdag 4 November.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos