Sharks-afrigter JP Pietersen glo sy jong spelers sal hul staal wys wanneer hulle teen die All Blacks te staan kom.
Die Sharks is die tweede span wat die All Blacks op hul Greatest Rivalry-toer aandurf.
Pietersen het vir die geleentheid ’n jeugdige span gekies, met spelers soos Zekhethelo Siyaya, Vusi Moyo en Litelihle Bester wat in die beginspan ingesluit is.
Volgens Pietersen gaan sy span hul beste gee teen die Nieu-Seelanders.
“Wat die jong manne het, is jeugdigheid en energie, en hulle sal dit beslis môre in die stryd wys,” het Pietersen aan verslaggewers gesê.
“Hulle gaan beslis vir die volle 80 minute mededingend wees en alles gee.”
Pietersen het erken dat die All Blacks verskeie spelers insluit wat onlangs in die Nasieskampioenskap begin speel het, maar meen dit is die ideale geleentheid vir sy jong spelers om hulself te toets.
“Jeug teen ervaring, dit gaan ’n groot wedstryd wees,” het Pietersen gesê.
“Ek dink as ek aan die ander kant was as ’n jong speler, sou ek daarna uitsien om te sien hoe ek myself teen Jordie Barrett en Damian McKenzie meet. Dit gaan ’n groot stryd wees om te sien wat jy teen ’n span van sulke gehalte kan doen.”
Die wedstryd in Durban skop vanaand om 19:00 af.
