Die Greatest Rivalry-reeks lewer reeds talle interessante intriges en storielyne op. Nuweling wat teen legendes moet kragte meet, spelers wat sal wil vergoed vir ’n verloor in die laaste Rugbywêreldbeker-eindstryd en ’n toer wat 30 jaar laas sy gelyke gesien het.
Maar min sou kon raai dat ’n All Blacks-legende op 44-jarige ouderdom weer ’n swart trui oor sy kop sou trek en die haka Kapa O Pango doen. Want dié keer is dinge ietwat anders.
Ma’a Nonu het nie saam met sy All Blacks-spanmaats die haka gedoen nie. Nee, anders as die 103 toetse wat hy vir die All Blacks uitgedraf het, het hy dié spesiale kreet alleen uitgevoer as deel van die Sharks-span wat die All Blacks in Durban minute later die stryd sou aansê.
