Resepte: Vinnige vyf!

Hoender.
Foto ter illustrasie: Adobe Stock.

Het jy geweet met net vyf bestanddele, kan jy iets heerliks aanmekaarslaan? En as jy dalk een of twee ekstra bestanddele byvoeg, kan jy sommer maklik ’n hele paar geregte skep. Vandag se basisresep bestaan uit die volgende vyf bestanddele:

Wortels, koeskoes, feta, kruie en hoenderaftreksel.

Met dié bestanddele het ek die volgende resep geskep:

Warm kruie-koeskoes met geroosterde wortel en feta

Bestanddele (genoeg vir twee, jy kan dit maklik verdubbel):

  • 1 koppie koeskoes
  • 1 groot wortel, gerasper of in klein blokkies gesny
  • 1 koppie hoenderaftreksel
  • Gemengde kruie (vars of gedroog)
  • 50–100 g feta, verkrummel

Opsioneel: olyfolie, swartpeper en suurlemoensap

Metode:

1. Rasper die wortel en soteer dit liggies in ’n bietjie olie, of rooster klein blokkies in die oond teen 200°C totdat dit sag en effens gekaramelliseer is.

2. Bring die hoenderaftreksel tot kookpunt. Haal van die hitte af, roer die koeskoes by, bedek en laat staan vir 5 minute.

3. Maak die koeskoes los met ’n vurk. Roer die wortel, kruie en swartpeper deur.

4. Vou die meeste van die feta in en strooi die res bo-oor. Voeg ’n skeut suurlemoensap by indien jy het. Sit voor.

Hier is nog drie variasies op die resep (indien jy die kode by ons kosartikel van 14 Augustus skandeer het, is hierdie die ekstra drie resepte, net vir jou).

1. Wortel-, feta- en koeskoeskoekies

Voeg by: 1 eier

Meng gaar koeskoes, gerasperde wortel, kruie, feta en ’n geklitste eier.

Vorm klein koekies. Braai in ’n pan totdat dit goudbruin is.

Bedien met ongegeurde jogurt of ’n vars slaai.

2. Gevulde soetrissies met koeskoes

Voeg by: Soetrissies

Rooster gehalveerde soetrissies.

Vul met koeskoes wat in aftreksel gekook is, gemeng met wortel, kruie en feta.

Bak vir 10–15 minute totdat dit deurwarm is.

3. Mediterreense hoender- en koeskoesgereg

Voeg by: Geroosterde hoender en olywe of kersietamaties

Kook die koeskoes in die hoenderaftreksel.

Meng die wortel en kruie deur.

Rond af met gesnyde hoender, feta en olywe of tamaties.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos