Boere kan nou inskryf vir die volgende seisoen van ‘Boer soek ’n vrou’

So lyk die boere wat in die huidige seisoen na daardie één mens soek. Foto: Verskaf
So lyk die boere wat in die huidige seisoen na daardie één mens soek. Foto: Verskaf

Met die 18de seisoen van kykNET se gewilde maatsoekreeks Boer soek ’n vrou nou in volle swang, is die vervaardigers reeds op soek na boere vir die 19de seisoen. 

As jy enkellopend is en gereed is om plek in jou lewe – én op jou plaas – vir liefde te maak, is dit nou jou beurt om die kans te waag. Sedert die reeks in 2007 vir die eerste keer uitgesaai is, het dit immers al tot tientalle huwelike en nuwe generasies jong boertjies gelei. 

Alhoewel die huidige seisoen wat tans op kykNET uitgesaai word, se top-5 boere om verskillende redes ingeskryf het, deel hulle dieselfde wens: om iemand te ontmoet met wie hulle ’n toekoms kan bou en die plaaslewe kan deel.

“Ek het ingeskryf omdat ek op ’n plek in my lewe is waar ek regtig gereed is om ’n maat te ontmoet saam met wie ek ’n toekoms kan bou,” sê Arno (28), ’n bosbouboer van Tzaneen in Limpopo.

Arno. Foto: Gys Loubser
Arno. Foto: Gys Loubser

“Ek glo Boer soek ’n vrou is ’n uitstekende platform om iemand te ontmoet wat al daardie kwaliteite het en tog gelukkig sal wees om by my lewensomstandighede te kan inpas,” sê Francois (34), ’n natuurbewaarder van Hoedspruit in Mpumalanga.

Francois. Foto: Gys Loubser
Francois. Foto: Gys Loubser

“Die plaas is nie net my werk nie – dis my leefwyse, my passie en my tuiste,” sê JD (28), van ’n gemengde boerdery by Reitz in die Vrystaat.

JD. Foto: Gys Loubser
JD. Foto: Gys Loubser

“Ek wil graag myself vestig op die nuwe plaas met ’n beste vriendin. En die program lyk boonop soos groot pret,” sê Jack (30), ’n appel- en peerboer van Hermanus in die Wes-Kaap.

Jack. Foto: Gys Loubser
Jack. Foto: Gys Loubser

“Ek het al lank genoeg gedreig om in te skryf, maar die geleentheid was nog nooit reg nie – nou is dit. Ek was nog nooit getroud nie, en dis tyd dat iemand deel in hierdie wonderlike lewe wat ek beplan en waaraan ek gebou het,” sê Willie (37), ’n bees- en mielieboer van Harrismith in die Vrystaat.

Willie. Foto: Gys Loubser
Willie. Foto: Gys Loubser

Saam wys hul stories dat nie een van hulle vir dieselfde redes ingeskryf het nie, maar hoofsaaklik gaan dit daaroor dat boere meer as bereid is om hul hart en lewe vir ’n moontlike pasmaat oop te maak. 

Klink dit soos iets waarna jy ook smag?

Só kan boere inskryf

Belangrike inligting

  • Manlike en vroulike boere van alle ouderdomme mag inskryf, mits hulle ongetroud en ouer as 21 jaar is.
  • Inskrywings sluit om middernag op 9 September 2026.

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos