Richie McCaw: Van verskonings tot 2 Rugbywêreldbeker-oorwinnings

All Blacks-legende Richie McCaw gesels met Matt Pearce by ’n Discovery Ink-geleentheid in Sandton.
All Blacks-legende Richie McCaw gesels met Matt Pearce by ’n Discovery Ink-geleentheid in Sandton. Foto: Jana Marx.

Dit is 2007. Die All Blacks, wat na verwagting sterk op die Wêreldbekerrugby-­kroon aanspraak sou maak, is agter in hul kwarteindstryd in Cardiff, Wallis.

Die tyd raak min voor ­80 000 toeskouers en die kaptein, Richie McCaw, se spanmaats soek antwoorde by hom. Hy het geen.

“Daardie hulpelose gevoel was verskriklik,” het McCaw onlangs in ’n leierskapsgesprek by ’n Discovery Ink-geleentheid in Sandton gesê.

“Jy weet dalk nie hoe om die uitslag te behaal waarna jy streef nie, maar jy wil nie hulpeloos voel en bloot die hande in die lug gooi nie.”

Dis McCaw se eerste besoek aan Suid-Afrika in 11 jaar.

Nieu-Seeland­ se vroeë uit­skakeling in 2007 was een van die pynlikste oomblikke in McCaw se loopbaan. Hy het ’n maand lank verskonings gesoek. “Ek het elke denkbare verskoning gehad waar­om ons onsuksesvol was.

“Niks was my of ons skuld nie. Dit was ­skeidsregterbeslissings, of beserings . . . ” het hy gesê. “Ek het myself behoorlik jammer gekry. Ek het gedink: Dalk is ek nie hiervoor uitgeknip nie.”

Uiteindelik moes hy ’n keuse maak – hou aan verskonings soek, of leer uit die mislukking.

Die nederlaag het ’n swakheid blootgelê. Die All Blacks het hulself nie daarop voorberei om besluite te neem wanneer druk hul planne omverwerp nie.

McCaw en sy span het begin ondersoek hoe hulle op ongemak reageer. Volgens McCaw het hy ook opgehou glo dat die kaptein al die antwoorde moes hê. Sy verantwoordelikheid was om ’n omgewing te skep waarin die hele span saam die regte antwoorde kon vind.

Vier jaar ná Cardiff het McCaw Nieu-Seeland as kaptein na die 2011-Wêreldbekertitel gelei. In 2015 het hulle dit weer gewen en het hy die eerste kaptein geword wat die Webb Ellis-beker by twee opeenvolgende toernooie omhoog gehou het.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos