’n Twis tussen leidende figure in die VF Plus in Tshwane het tot ingryping deur die party se nasionale leierskorps gelei en Grandi Theunissen, die leier van die party se grootste politieke koukus, is sy pos summier kwyt.
Dié ingryping kom te midde van ’n breekspul oor onder meer ’n omstrede grondtransaksie in Groenkloof en die rol van Willie Spies.
Spies is ’n buitekandidaat wat deur die VF Plus as sy Tshwane-burgemeesterskandidaat aangewys is, hoewel hy tans nie ’n raadslid is nie.
Die verwikkelinge plaas die VF Plus se Tshwane-raadslede voor ’n ongemaklike politieke werklikheid: Hulle moet nou met ’n nuwe koukusleier saamwerk nadat die party se uitvoerende dagbestuur besluit het Theunissen moet uit dié pos tree.
Tshwane is ’n sleutelgebied vir die VF Plus. Die party het tans 17 verkose raadslede in die Tshwane-metroraad – verreweg hul grootste plaaslike koukus in die land. In kontras hiermee het die party slegs vier raadslede in die Kaapstad-metroraad en ses in die Nasionale Vergadering.

Foto: Facebook / Grandi Theunissen
Vrees, klagtes en ’n nuwe koukusleier
Koukuslede, wat nie hul name gepubliseer wil sien nie, het aan Die Papier gesê groot ontevredenheid heers oor die wyse waarop die nasionale leierskorps ingegryp het – “dít in ’n party wat plaaslike outonomie voorstaan”. Die meerderheid steun Theunissen glo, maar vrees dat verset dalk lede se posisie op verkiesingslyste kan raak.
Dr. Corné Mulder, die VF Plus-leier, het egter bevestig dat die besluit finaal is. Volgens hom is Theunissen verlede Maandag (3 Augustus) as koukusleier verwyder. Die besluit is eenparig deur die party se uitvoerende dagbestuur geneem ná “ ’n interne proses en ’n omvattende ondersoekverslag”.
Mulder sê verskeie klagtes is van mense in die Tshwane-gemeenskap ontvang en ’n senior paneel is aangewys om die saak te ondersoek. Hy sê dit was nie ’n tugproses nie, maar Theunissen het wel die geleentheid gekry om sy kant te stel.
Theunissen se verwydering raak volgens Mulder nie sy posisie as VF Plus-streeksleier in Tshwane of sy tweede plek op die party se proporsionele lys vir die munisipale verkiesing op 4 November nie.
Die koukus het Dinsdag 11 Augustus vergader en Peter Meijer as nuwe koukusleier verkies.
Meijer het aan Die Papier gesê: “Ek is op ons onlangse koukusvergadering op demokratiese wyse as koukusleier verkies. Hiervolgens sal ek die koukus leiding gee in raadsvergaderings en -aangeleenthede. Ek respekteer die rolverdeling en sien daarna uit om saam met Theunissen en die hele span te werk.”


Die Groenkloof-grond as breekpunt
Die Groenkloof-grondkwessie lê volgens Spies sowel as Mulder aan die hart van die twis. Spies het die koukus aangeraai om nie ’n metroverslag oor die grond te steun nie. Die grond – sowat vyf hektaar in die Groenkloof-groengordel – word tans deur ’n organisasie, Die Vriendekring, gehuur.
Spies sê die voorgestelde stap sou die huurkontrak gedeeltelik beëindig en die res van die grond vir moontlike ontwikkeling beskikbaar stel.
“Die stadsraad het geen versekering gegee dat die ontwikkeling wat in die vooruitsig gestel word, nie ook laedigtheidbehuising sal wees wat die groengordelstatus van die omgewing raak nie,” het hy gesê.
Mulder sê die koukus het aanvanklik besluit om die verslag nie te steun nie, maar dié besluit later omgekeer.
“Om daardie besluit om te keer en wel vir die verslag saam met die ANC/EFF-koalisie te stem, is heeltemal onaanvaarbaar.”
Spies sê hy glo die koukus se besluit was ’n fout, maar ontken dat hy Theunissen of die koukus persoonlik “aangemeld” het. “Ek het die strukture in die party gevra om ondersoek in te stel hoe dit gebeur het.”
Hy ontken ook dat ’n persoonlike konflik tussen hom en Theunissen bestaan en beskryf hul verhouding eerder as een van menings- en stylverskille.
Theunissen wou geen kommentaar lewer nie.
