Barbara (30) het hoop gekry die dag toe sy brood, melk en doeke in haar huis gehad het. Vandag deel sy dit weer aan ander uit as spanlid by Cradle – Tjokkertjies vir Jesus. Dis ’n gemeenskapskleuterskool van The Cradle of Hope in Krugersdorp, waar sy daagliks ’n verskil in kinders se lewens maak.
“Ek was in ’n huwelik waar ek mishandel is en het tydens my laaste swangerskap met dwelmverslawing gesukkel,” vertel Barbara, wie se van om veiligheidsredes weerhou word. “Toe my jongste dogtertjie gebore is, het ek besluit om op te hou dwelms gebruik, want ek wou ’n beter lewe vir my kinders en vir myself hê.”
Die mishandeling het vererger, en nadat sy en haar pasgebore baba byna in ’n brand dood is, het sy besef hulle moet vlug. Twee weke later het sy en haar vier kinders met leë hande en sakke Johannesburg toe getrek.
Sy het gereeld hulp gekry by The Cradle of Hope se voedselhulpprogram, waar ’n personeellid haar aangemoedig het om met ’n maatskaplike werker te praat. “Vandag besef ek sy het my nie weggejaag nie – sy het my eintlik gehelp om my en my kinders se lewens te red,” sê Barbara.
Kort daarna het hulle by The Cradle of Hope se sorgsentrum ingetrek.
“Ek was gebroke, moeg en sonder hoop. Maar in plaas daarvan dat ek veroordeel is, is ons met liefde, deernis en oop arms ontvang.”
Toe Barbara later as vrywilliger by die organisasie se kleuterskoolsportdag help, het die skoolhoof haar potensiaal raakgesien en haar ’n pos aangebied. Vir Melodie van Brakel, stigter en uitvoerende hoof van The Cradle of Hope, is Barbara se verhaal ’n voorbeeld van wat moontlik is wanneer mense die regte ondersteuning ontvang.
“Ons glo nie daaraan om net onmiddellike nood te verlig nie. Ons wil mense bemagtig om weer op hul voete te kom en ’n nuwe toekoms vir hulself en hul kinders te bou,” sê sy.
“Moenie moed opgee nie. Daar is hoop. Daar is genesing.”

Die Kinderfonds help om dit te laat gebeur – The Cradle of Hope is een van die organisasies wat hulle steun.
Wanneer jy ’n bydrae maak aan Die Kinderfonds, het jy die kans om R200 000 of ’n Toyota Vitz te wen.
Skenk so min as R50 vir een inskrywing of R250 vir ses, jy kry dan een gratis inskrywing.
Persone wat meer wil gee en teen 7 November R1 800 in totaal bygedra het, kom ook in ’n addisionele trekking van R20 000. Kry al die inligting by diekinderfonds.co.za.
Betaal in by Absa, rekeningnommer 2840157329, gebruik jou selfoonnommer as verwysing. Kaartbetalings kan hier gedoen word.
Rig navrae aan Adrie van Staden by 061 479 4791.
