Het jy geweet met net vyf bestanddele, kan jy iets heerliks aanmekaarslaan? En as jy dalk een of twee ekstra bestanddele byvoeg, kan jy sommer maklik ’n hele paar geregte skep. Vandag se basisresep bestaan uit die volgende vyf bestanddele:
Varkworsies, uie, vars salie, blik tamaties, blik botterbone
Met dié bestanddele kan jy die volgende maak:
Varkworsie, tamatie en botterbone-gebak
Bestanddele (genoeg vir 3-4)
- 6-8 varkworsies
- 1 groot ui, fyngekap
- 1 e gekapte vars salie
- 1 400g blik gekapte tamaties
- 2 x 400g blikke botterbone, gedreineer en afgespoel
Metode:
- Voorverhit die oond tot 180°C. Verhit ’n eetlepel van enige olie wat jy tot jou beskikking het (olyf of sonneblom) in ’n groot, swaarboompan. Braai die worsies sowat 2 minute tot bruin buiteom maar nie deurgaar nie. Skep uit en hou eenkant.
- Sit nog bietjie olie in dieselfde pan en braai die uie tot goudbruin. Voeg die gekapte salie by en roerbraai nog ’n minuut of twee.
- Voeg die tamaties by, laat opkook, verlaag die hitte en prut vir 5 minute tot dit effens gereduseer het. Roer elke nou en dan. Proe en geur met sout en peper.
- Skep die tamatiemengsel in ’n oondvaste bak en roer die bone by. Pak die worsies bo-op, druk hulle effens in die tamatiemengsel in.
- Bak in die oond vir 20 minute tot alles borrelend en deurgaar is. Sit dadelik voor.
- Resep uit Just Five Ingredients deur Ainsley Harriot.
Hier is nog drie variasies op die resep.
Salie, varkworsie en tamatiepasta
Voeg by: Pasta en parmesaan/feta (laat die bone weg)
- Verwyder die worsvleis uit die derms en braai dit in ’n pan terwyl jy dit met ’n houtlepel uitmekaar breek, soos maalvleis.
- Voeg die fyngekapte ui by en braai totdat dit sag is.
- Voeg die gekapte salie by en braai ’n minuut of twee.
- Gooi die gekapte tamaties by en laat dit vir 15 minute prut. Kook intussen die pasta.
- Meng die pasta met die sous en voeg ’n bietjie van die pastawater by om die sous effens losser te maak. Rond af met gerasperde parmesaan of krummel ’n bietjie feta bo-oor.
Toskaanse-styl worsie-en-botterbonebredie
Voeg by: Knoffel en aftreksel (of ’n skeut rooiwyn)
- Braai die worsies in ’n groot pan tot bruin, haal dit uit en sny dit in stukke.
- Braai die uie totdat dit sag en goudbruin is. Voeg 2–3 gekapte knoffelhuisies en ’n paar gekapte salieblare by.
- Voeg die tamaties en ongeveer ½ koppie aftreksel (of rooiwyn) by.
- Plaas die worsies terug in die pan en laat dit vir 15–20 minute prut.
- Voeg die gedreineerde botterbone vir die laaste 5–7 minute by.
- Geur goed met sout en varsgemaalde swartpeper. Jy kan dit voorsit saam met brood, kapokaartappels of polenta.
Romerige worsie, salie en botterboon-gereg
Voeg by: Room en Dijon-mosterd (laat die tamaties weg)
- Braai die worsies in ’n groot braaipan tot bruin, haal dit uit en sny dit in stukke.
- Braai die gesnyde uie in dieselfde pan totdat dit sag en goudbruin is.
- Voeg ’n ruim handvol gekapte salie by en braai dit vir 30 sekondes.
- Voeg die worsies en gedreineerde botterbone by.
- Roer ½–1 koppie room en 1–2 teelepels Dijon-mosterd by. Geur met sout en baie swartpeper.
- Laat dit 5 tot 8 minute liggies prut totdat die sous verdik. Indien jy dit het, rond af met ’n skeut vars suurlemoensap. Jy kan dit voorsit saam met kapokaartappels, rys, of selfs pasta.
