Vrystaatse Kunswedstrydvereniging vier eeu van opwindende kunste met gala-aand

Corneil Müller en Charl du Plessis voer Édith Piaf se ‘Hymne à lámour’ op.
Corneil Müller en Charl du Plessis voer Édith Piaf se ‘Hymne à lámour’ op. Foto: Lieandri Ackermann.

Die Vrystaatse Kunswedstrydvereniging (VKV) het op 13 Augustus sy 100ste bestaansjaar met ’n glansryke gala-aand in die Odeion-saal van die Universiteit van die Vrystaat gevier.

Met ’n roemryke geskiedenis wat nou al oor ’n eeu strek, het dié aand die viering van mense, musiek, voordrag, dans, drama en stories versinnebeeld wat nou al oor geslagte heen ’n kardinale rol speel in die ontwikkeling van jong talent in die Vrystaat.

Die geleentheid, wat deur die FAK ondersteun is, het heel gepas saam met Afrikaanse Taaldag geval, wat elke jaar op 14 Augustus gevier word.

Die VKV se bestuurslede en rolspelers wat die gala-aand moontlik gemaak het.
Die VKV se bestuurslede en rolspelers wat die gala-aand moontlik gemaak het. Foto: Gerrit Rossouw.

“Daar is ongelooflik baie talent in die Vrystaat. Wanneer ’n mens hierdie kinders op die verhoog sien sing, musiek maak, voordra, dans en toneel speel, besef jy daar is hoop vir Afrikaans, vir Suid-Afrika en vir die toekoms. Hierdie jongmense wys dat talent, harde werk en ’n liefde vir die kunste steeds sterk leef,” verduidelik Lieandri Ackermann, kultuurkoördineerder van die FAK-Sentraalstreek.

In die gees van Afrikaanse Taaldag is die feestelike eeufeesatmosfeer verder beklemtoon deur ’n keur van bekende Afrikaanse geure. Gaste kon ’n verskeidenheid wyne geniet, asook biltongkoekies, souttertjies, frikkadelletjies, samoosas en kaasworsies. Gemmerbier, sjerrie, Amarula, melktert en koeksisters het die viering afgerond.

Egte Afrikaanse kos is tydens die VKV se gala-aand bedien.
Egte Afrikaanse kos is tydens die VKV se gala-aand bedien. Foto: Lieandri Ackermann.

“Dit is vir die FAK ’n voorreg om deel te wees van ’n organisasie se eeufees wat reeds ’n honderd jaar lank geleenthede vir jongmense skep om hul stemme, stories en talente te ontdek,” vertel Sallas de Jager, die FAK se nasionale hoof van taal, kuns en musiek.

“Die VKV se eerste honderd jaar is ’n indrukwekkende prestasie – maar die jong gesigte op die Odeion-verhoog het gewys dat die volgende honderd jaar reeds besig is om hul eie verhaal te begin skryf. Die ondersteuning van die gala-aand bevestig die FAK se verbintenis tot die bevordering van uitnemende uitvoerende kunste.”


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos