Daar is waarskynlik min plekke waar ’n gesprek oor onwettige mynbou, Oscar Pistorius, tannie Maria en poësie heel natuurlik in dieselfde naweek kan tuis voel.
Maar dan is daar Kaapsehoop.
Die bergdorpie met sy mis, wilde perde en eiesoortige atmosfeer maak vanjaar weer plek vir die Innibos Boekenaweek, wat van 28 tot 30 Augustus vir die vierde keer aangebied word. Die tema? “Harde feite en sexy fiksie.”
Dit klink dalk soos twee wêrelde wat nie saam hoort nie. Juis daarom werk dit.
Volgens Annemarie van der Walt, vryskutskrywer wat by die Boekenaweek betrokke is, is die kleinskaalse aard van die geleentheid een van sy grootste trekpleisters.
“Eerstens omdat Kaapsehoop as plék hom leen tot ’n meer intieme byeenkoms waar ’n mens werklik skouers skuur met mekaar – lesers en skrywers. Daar is dus nie die frenetiese tempo wat ’n mens met ’n groot kunstefees vereenselwig nie, en die fokus val op woord en wederwoord.”
Vanjaar se program neem daardie woord en wederwoord in verskeie rigtings.



Die Vrydag is die fokus op niefiksie, met onder meer Graham Coetzer se Zama Zama: Inside the Illicit Mining Underworld en Chris Marnewick SC se nuwe boek oor die Oscar Pistorius-verhoor, Oscar Pistorius: The BIG Lie and the Right to a Fair Trial. Die joernalis Jana van der Merwe, wat destyds volledig oor die saak verslag gedoen het, lei dié gesprek.
Daar is ook politiek en geskiedenis, met Pieter Mulder se Parlementpraatjies, Albé Grobbelaar se Historiese almanak: Onthou jy nog? en Carel van der Merwe se Kansvatter oor Ben Viljoen.
Maar Saterdag skuif die naweek van harde feite na fiksie, spanning en poësie.
Sally Andrew, skepper van die geliefde tannie Maria-speurverhale, kom vertel van haar jongste boek, Wild things never die, en hoe dié onwaarskynlike speurder selfs die sprong na die internasionale filmbedryf gemaak het.
“En natúúrlik om Sally Andrew, skrywer van die tannie Maria-mysteries, te kan verwelkom in die Laeveld. Wys my ’n leser wat nie deur daardie karakter oorrompel is nie!” sê Van der Walt oor een van haar hoogtepunte.
Vir Van der Walt is die Boekenaweek meer as net ’n lys skrywers en gesprekke.
“Die Boekenaweek het ’n aar raak geboor, en dit kan geag word as ’n waardetoevoeging tot die (hoof) Innibos Laeveld Nasionale Kunstefees, wat ’n veel groter aanbod van vermaak het.”
Die plaaslike gemeenskap pluk ook die vrugte daarvan.
“Vanselfsprekend glimlag die eienaars van gasteverblyf op die dorp oor en oor! Maar daarby, dit is ’n gebeurtenis wat nie net ligte vermaak is nie, met goeie intellektuele stimulasie wat lei tot wat ek noem ‘die durende gesprek’.”
- Kaartjies is nou te koop by Ticketpro en belangstellendes kan innibos.co.za vir die volledige program besoek.
Smul en kuier lekker saam
Die jaarlikse Natsteen-spitbraai word Saterdagaand 29 Augustus om 18:00 deur Nagkantoor op Kaapschehoop aangebied.
Die Natsteen-tradisie kom uit die joernalistiek. Bestaande joernaliste, oud-joernaliste, boekefeesgangers en enige ander belangstellendes sluit gewoonlik aan.
Marmite-potbrood en gebraaide aartappels is ook op die spyskaart.
Die Papier en die Dagbreektrust is van die borge.
Toetsrugby kan ook gekyk word.
Die geselligheid beloop R150 per persoon.
Doen besprekings by Isobel by 072 450 1992.
