Springbok-afrigter Rassie Erasmus het ’n beroep op ondersteuners wat Saterdag die eerste toets in die Greatest Rivalry-reeks teen die All Blacks bywoon, gedoen om respek vir die haka te toon.
Nieu-Seeland sal, soos altyd voor ’n toets, hul tradisionele Māori-oorlogsdans voor die afskop uitvoer.
Gewoonlik sal Suid-Afrikaanse ondersteuners daarop reageer – soms deur te fluit, soms deur te boe en dikwels deur “olé, olé, olé” te sing.
Erasmus sê egter ondersteuners moet eerder die skouspel ervaar en die haka die respek betoon wat dit verdien.
Hy het die ondersteuners by die Kaapstad-stadion geloof tydens die eerste wedstryd van die toer, toe die All Blacks teen die Stormers gespeel het en dit meestal stil was tydens die oorlogsdans.
“Ek sal daarvan hou as die mense by Ellis Park dieselfde atmosfeer skep as wat die mense in Kaapstad [tydens die Stormers teen die All Blacks-toerwedstryd] geskep het.
“Die haka is 100% gehoor, wat dit iets besonders maak,” het Erasmus bygevoeg.
Volgens die All Blacks se webwerf is die haka “een van die kragtigste uitdrukkings van Māori-kultuur, ’n lewende tradisie van krag, trots, identiteit en mana wat ons spanne in die swart truie met die land, hul erfenis en met mekaar verbind. Dit is veel meer as ’n voorwedstrydritueel en is al vir meer as 130 jaar deel van die weefsel van Nieu-Seelandse rugby, met die stemme, stories en gees van dié wat voor ons gekom het.”
Die All Blacks het twee weergawes wat hulle uitvoer, Ka Mate en Kapa o Pango, terwyl die Silver Ferns, Nieu-Seeland se vrouespan, óf Ko Uhia Mai óf Te Tīmatanga uitvoer.
Saterdag se toets by Ellis Park skop om 17:10 af, en dit sal interessant wees om te sien watter weergawe van die haka die All Blacks kies.
