Dit mag dalk na die een of ander tema vir ’n Hallmark-fliek klink, maar die waarheid is soms vreemder as fiksie. Soos in die geval van Clément Vandenkerckhove (26) van België, die jong man wat motors verkoop het. En toe ontdek hy sy pa is eintlik ’n prins.
Prins Laurent van België en Clément se ma, Wendy Van Wanten, wie se regte naam Iris Vandenkerckhove is, was in ’n verhouding betrokke voordat hy in 2003 met prinses Claire in die huwelik getree het. Wendy was ’n Begliese model, sangeres en aktrise.
Selfs toe Clément per toeval die prins in 2013 in ’n winkelsentrum raakgeloop het, het hy nog nie besef dat dit sy biologiese pa is nie. Wendy het hom eers op 16-jarige ouderdom vertel dat die prins inderdaad sy pa is.
DNS-uitslag
Dit sou hom vier jaar neem om genoeg moed bymekaar te skraap om die nuus met die prins te deel. En dit was juis die prins se idee om hul DNS te laat toets.
“Ons het saam na die hospitaal toe gegaan en ek onthou dat hy gesê het ‘ek sal eerste gaan as jy ongemaklik voel’”, het Clément in ’n VTM-dokumentêr vertel. Die DNS-uitslag was 99,5% en het geen twyfel oor die twee se verwantskap gelaat nie.
Welkom in die paleis
Ses maande gelede is Clément stil-stil in die koninklike vleuels verwelkom en moet nog amptelik tot prins verklaar word.
Hy sal egter nie enige koninklike toelaes ontvang nie, maar terselfdertyd sal daar ook nie van hom verwag word om enige koninklike verpligtinge na te kom nie. En hy sal ook nie by die lys van potensiële troonopvolgers ingesluit word nie, maar hy word wel as een van prins Laurent se erfgename ingesluit.
Hy is ook nog nie seker of hy sy pa se van, Saxe-Coburg, gaan aanneem nie.
“Ek oorweeg dit nog, maar ek is trots op my Vandenkerckhove-van. En as ek daardie familienaam gaan opoffer, sal dit verraad wees teenoor alles wat my ma vir my gedoen het.”
Die prins het die aangeleentheid as privaat beskou en het nie verder daaroor uitgewei nie. Hy is koning Philippe se jongste sibbe en het drie ander kinders met sy vrou, prinses Claire. Hulle is prinses Louise, prins Aymeric en prins Nicolas.

Koning Albert II, prins Laurent se pa, het ook dieselfde paadjie gestap – maar syne was baie lank uitgerek. In 2020 moes hy erken dat daar ’n dogter gebore is uit een van sy affairs en hy moes haar uiteindelik as sy eie dogter erken. Vanweë die opspraakwekkende koninklike skandaal, het Albert II in 2013 as koning van België geabdikeer.
Die dogter, Delphine Boël, is ’n bekende kunstenaar in die land en het die reg tot die titel van prinses bekom. Sy staan nou as Delphine de Saxe-Coburg bekend.
