Steve Biko- akademiese hospitaal in Pretoria ondergaan vandag, Saterdag 22 Augustus, noodsaaklike herstelwerk aan sy elektrisiteitsinfrastruktuur. Die kragtoevoer op vlakke 8 en 9 word van 09:00 tot 13:00 onderbreek. Dié vlakke huisves onder meer verloskunde, neonatale en pediatriese eenhede, asook ses teaters en kritieke sorgeenhede.
Die hospitaal het pasiënte vooraf verskuif om veilige sorg te verseker. Altesaam 33 nie-dringende operasies is vir ’n latere tyd geskeduleer, terwyl dringende operasies steeds in ander beskikbare teaters uitgevoer kan word.
Hoewel die kragonderbreking sowat vier uur sal duur, kan normale bedrywighede eers ná ongeveer 16 uur hervat word. Die herstelwerk is daarop gemik om te verseker dat noodkragopwekkers binne sekondes outomaties oorneem wanneer munisipale krag onderbreek word. ’n Verdere ingryping op vlak 6 sal later plaasvind.
