Grandi stap oor na die DA

Grandi Theunissen is uit sy pos as VF Plus-koukusleier in die Tshwane-metroraad verwyder.
Grandi Theunissen is uit sy pos as VF Plus-koukusleier in die Tshwane-metroraad verwyder. Foto: Facebook / Grandi Theunissen

Grandi Theunissen, voormalige VF Plus-koukusleier in die Tshwane-metroraad, het bedank as lid van die VF Plus.

Theunissen het vanoggend in ’n kort interne boodskap aangekondig dat hy sy betrokkenheid by die VF Plus beëindig.

Enkele ure later het hy langs Cilliers Brink, DA-burgemeesterskandidaat in die Tshwane-metro, aangekondig dat hy by die DA gaan aansluit.

“Dit is ’n besluit wat ek nie ligtelik geneem het nie. Dit was ’n sielewroeging om by daai punt uit te kom,” het Theunissen in sy toespraak gesê. Hy het ook bevestig dat hy die besluit eers in die laaste paar dae geneem het.

“Om party waarvan ek reeds in 1994 ’n lid was, te verlaat, was ’n moeilike besluit. Ek wil amper sê dit was ’n traumatiese besluit om dit te neem. Maar in die afgelope drie jaar, het ek stelselmatig ’n ontnugtering gehad, en my posisie in die party stelselmatig . . . agtergekom dat dit vir my ’n probleem is.”

Theunissen het vanoggend in ’n kort interne boodskap aangekondig dat hy sy betrokkenheid by die VF Plus beëindig.

“Ná deeglike oorweging het ek besluit om my betrokkenheid by die party te beëindig. Ek dien hiermee my bedanking in as lid en raadslid van die Vryheidsfront Plus,” het hy gesê.

Sy bedanking kom enkele weke nadat hy as leier van die VF Plus se Tshwane-koukus verwyder is en te midde van toenemende spanning binne die party se Tshwane-strukture.

LEES | VF Plus se Tshwane-hoës in Grondtwis: Mulder laat kop rol

Hy sê die “laaste strooi” was die wyse waarop die VF Plus se nasionale leierskap in die sake van die Tshwane-koukus ingegryp het.

“Die laaste strooi was die ondemokratiese manier waarop die nasionale leierskap van die party vanuit Kaapstad in die sake van die munisipale koukus in Pretoria kom inmeng het.”

Theunissen het ook die party se hantering van die proses waarin hy as koukusleier verwyder is, skerp gekritiseer.

“Ek wil dit duidelik stel dat anders as wat die leierskap, die VF Plus en die media beweer het, is ek op geen stadium ’n billike geleentheid gegee om my saak te stel nie.”

“Ek is skuldig bevind sonder enige verhoor,” het hy gesê.

‘Ons het dieselfde waardes’

Theunissen het sterk klem gelê op sy bestaande verhouding met die DA se Cilliers Brink, met wie hy tydens Brink se termyn as Tshwane-burgemeester saamgewerk het.

“Ek en Cilliers kon oor partygrense saamwerk, juis omdat dit ons dieselfde waardes en belange het. Waardes wat nie net op papier is nie, maar waardes wat uitgeleef is.”

Theunissen sê hy is daarom gemaklik met sy besluit om nou saam met Brink binne dieselfde party te werk.

“Maar van vandag af werk ons saam in dieselfde party. Wie sou dit nou ooit kon dink, maar dis so.”

“Ek is gemaklik om dit te kan doen en ek is eintlik baie bly en opgewonde om met Cilliers saam te werk in die tyd wat voorlê.”

Hy het ook verwys na die spanning tussen die VF Plus en die DA in ander dele van die land en gesê hy en Brink het hulle daartoe verbind om nie toe te laat dat dié politiekery die Tshwane-koalisie ontspoor nie.

“Ek en Cilliers het op daardie stadium teenoor mekaar onderneem dat ons dit nie sal toelaat dat hierdie politiekery wat daar plaasgevind het, ons eie koalisie hier in Tshwane tot ’n val sal bring nie.”


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos