Amerikaanse country-ster Dolly Parton sterf op 80

Die Amerikaanse country-sanger Dolly Parton.
Die Amerikaanse country-sanger Dolly Parton. Foto: AFP.

Die Amerikaanse country-superster Dolly Parton is in die ouderdom van 80 oorlede, het haar familie Dinsdag aangekondig.

Parton se neef het die nuus in ’n video op sosiale media bevestig en gesê die sangeres het “in die lig geleef en is nou in Jesus se arms”.

Die familie het nie die oorsaak van haar dood bekend gemaak nie, maar Parton het onlangs in die openbaar oor gesondheidsprobleme gepraat. Haar man, Carl Dean, is verlede jaar oorlede.

Parton, wat vandag oorlede is, was veel meer as ’n geliefde sanger en sakevrou.

Een van haar Dollywood-stigting se bekendste programme is die Imagination Library-projek, ’n inisiatief wat sy in die middel 1990’s begin het. Haar pa, ’n man wat nooit leer lees of skryf het nie, was die inspirasie vir dié projek waarmee sy ’n liefde vir lees onder voorskoolse kinders wou aanmoedig. Volgens onlangse syfers was 3,2 miljoen kinders lede van die program. Hulle het van geboorte tot met hul vyfde verjaarsdag elke maand ’n boek by hul huis afgelewer gekry.

Meer as 300 miljoen kinderboeke is op dié manier onder behoeftige kinders versprei. Dit het ontstaan in die deelstaat Tennessee, maar is later uitgebrei na die hele VSA, Kanada, Ierland en Australië.

Haar grootste treffers het onder meer “Jolene”, “Coat of Many Colors” en “I Will Always Love You” ingesluit. Laasgenoemde lied het later wêreldwye sukses behaal toe Whitney Houston dit opgeneem het.

“Deur haar voorbeeld het ons geglo dat enigiets moontlik is. Sy het nooit ’n deur gesien wat sy nie kon oopmaak nie, en die deure wat sy oopgemaak het, het geskiedenis geskep en verander,” het haar neef, Bryan Seaver, in die video gesê.

Parton is wyd beskou as die koningin van countrymusiek en was bekend daarvoor dat sy vir geslagte kunstenaars oor verskeie musiekgenres heen nuwe geleenthede geskep het.


Kategorieë: ,

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos