Rugbywedstryd lok duisende besoekers en hupstoot toerisme in Kaap

Die DHL Stormers-rugbyspan hard aan die oefen by Kaapstad-stadion.
Die DHL stadion in Kaapstad

Die Springbokke en die All Blacks se kragmeting in Kaapstad dié naweek gaan nie net oor rugby nie, maar kan ook ’n welkome hupstoot aan die Wes-Kaap se toerisme- en ekonomiese sektor gee.

Die DHL-stadion is uitverkoop en na verwagting sal 62 000 toeskouers Saterdag die wedstryd bywoon.

Die Wes-Kaapse minister van Kultuursake en Sport het aan Die Papier gesê die wedstryd bied die provinsie ’n belangrike geleentheid om homself aan plaaslike en internasionale besoekers as ’n vooraanstaande sport- en toerismebestemming te bemark.

“Om die Springbokke teen die All Blacks hier te huisves, gee Kaapstad en die Wes-Kaap aansienlike nasionale en internasionale blootstelling. Dit is ’n geleentheid om nie net ons sportinfrastruktuur ten toon te stel nie, maar ook die provinsie as ’n voorkeurbestemming en belangrike sportsentrum,” het die minister gesê.

Volgens die verslag The Case for Sport in the Western Cape, wat in Junie 2025 gepubliseer is, dra sport jaarliks meer as R8,8 miljard tot die Wes-Kaapse ekonomie by en ondersteun die sektor meer as 60 000 direkte en indirekte werksgeleenthede.

Die ekonomiese voordeel van ’n groot internasionale wedstryd strek egter veel verder as die stadion.

Duisende ondersteuners wat vir die wedstryd na Kaapstad reis, bring volgens die minister geld na verskeie sektore, insluitend akkommodasie, vervoer, restaurante, toeriste-aantreklikhede en ander plaaslike ondernemings.

“Duisende ondersteuners wat na Kaapstad reis, dra by tot ekonomiese bedrywighede in akkommodasie, vervoer, toeriste-aantreklikhede, restaurante en ander ondernemings. Die belangrikste is dat dit geleenthede skep vir werkskepping en ons die kans gee om die beste van die Wes-Kaap aan die wêreld te wys,” het hy gesê.

Simone Carter, woordvoerder van die minister van kultuur en sport het aan Die Papier gesê groot internasionale sportgeleenthede is belangrik vir die provinsie se onmiddellike toerisme-inkomste, maar speel ook ’n rol om die Wes-Kaap se reputasie as ’n bestemming vir groot sportgeleenthede te versterk.

“Ons doel is om die Wes-Kaap verder te vestig as ’n voorkeurbestemming vir groot sportgeleenthede. Geleenthede van hierdie omvang bring besoekers na die provinsie, ondersteun ekonomiese ontwikkeling en werk en inspireer mense om aan sport deel te neem,” het hy gesê.

Die wedstryd kan volgens die provinsie ook ’n langertermyn-effek hê deur jong sportlui te inspireer en die Wes-Kaap se vermoë om wêreldklas-sportgeleenthede aan te bied, verder te versterk.

Met die stadion wat om 12:00 oopmaak en die afskop om 17:10, word ondersteuners aangemoedig om hul reis vooruit te beplan.

Spesiale treinverbindings is vir die wedstryd ingestel, terwyl MyCiTi gratis pendeldienste vir ondersteuners met geldige wedstrydkaartjies sal bied. ’n R20-retourtarief is ook vir wedstryddagtreine aangekondig.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos