Tekort aan munisipale vaardighede bedreig waterinfrastruktuurprojekte

Boorgat
Foto ter illustrasie: Unsplash

Suid-Afrika se ingrypings om watervoorsiening te verbeter loop die gevaar om onvolhoubaar te word weens aanhoudende kapasiteitstekorte op munisipale vlak, het die portefeuljekomitee oor water en sanitasie gewaarsku.

Die komitee het ’n opdatering ontvang oor die vordering wat die departement van water en sanitasie (DWS) met ingrypings ingevolge Artikel 63 van die Wet op Waterdienste gemaak het. Hoewel noemenswaardige vooruitgang behaal is, het komiteelede hul kommer uitgespreek dat munisipaliteite nie oor die nodige vaardighede en kapasiteit beskik om voltooide projekte te bedryf en in stand te hou wanneer die ingrypings beëindig word nie.

Die voorsitter van die komitee, Leon Basson, het gesê die ingrypings is noodsaaklik om die voltooiing van projekte en die hervatting van gehalte-water- en sanitasiedienste te verseker. Munisipaliteite sukkel egter steeds met kapasiteitstekorte wat die langtermynbestuur van infrastruktuur sal beïnvloed.

“Sónder die nodige kapasiteit sal hierdie ingrypings nie volhoubare oplossings op die lang termyn oplewer nie,” het Basson gesê.

Voltooide projekte toon vordering

Deur die Artikel 63-ingryping het die DWS die opknapping en opgradering van vier groot rioolpompstasies wat in ’n kritieke toestand was in die Emfuleni-munisipaliteit voltooi. Ineengestorte rioolpypleidings is ook vervang, wat gelei het tot ’n afname in rioolstortings en oorstromings wat huishoudings geraak het.

In Hammanskraal het die departement ’n 50 megaliter-skoonwateraanleg gebou en in werking gestel om watervoorsiening aan te vul. Die projek is op 18 Julie amptelik deur die president oorhandig.

Watersiklus in gedrang

Die komitee het beklemtoon dat die waterwaardeketting slegs doeltreffend kan funksioneer indien al sy komponente effektief werk. Tans vorm munisipaliteite die swak skakel in die ketting, wat die hele stelsel aan beduidende en moontlik onbeheerbare risiko’s blootstel.

Volgens die komitee is dit noodsaaklik om munisipale stelsels en menslike hulpbronkapasiteit te versterk sodat Suid-Afrikaners die volle sosio-ekonomiese voordele van betroubare water- en sanitasiedienste kan geniet.

Die komitee het gewaarsku dat infrastruktuur uiteindelik wanbestuur kan word weens ’n gebrek aan vaardighede en bestuursuitdagings indien daar nie ’n langtermyn- en volhoubare program is om funksionele plaaslike regering te verseker nie.

Wetgewing alleen nie genoeg nie

Die komitee het daarop gewys dat die huidige wetgewende proses om waterdienste-wetgewing te versterk wel kan help, maar dat wetgewing alleen nie die volgehoue tekort aan vaardighede en kapasiteit op plaaslike regeringsvlak sal oplos nie.

Die regering is aangemoedig om ’n omvattende plan op te stel om te verseker dat projekte nie uiteindelik deur onbevoegde plaaslike owerhede wanbestuur word nie, en dat gemeenskappe steeds op die lang termyn gehalte-water- en sanitasiedienste ontvang.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos