Suid-Afrikaners wat bereid is om vroeg op te staan, kan Vrydagoggend ’n besonderse hemelse verskynsel sien wanneer die volmaan gedeeltelik deur die aarde se skadu verduister word.
Die gedeeltelike maansverduistering vind in die vroeë oggendure van Vrydag 28 Augustus plaas en sal vanuit groot dele van Suid-Afrika sigbaar wees. In Johannesburg begin die gedeeltelike fase omstreeks 04:33, waarna die verduistering geleidelik meer sigbaar word.
Die hoogtepunt word omstreeks 06:12 bereik, wanneer sowat 96% van die maan se oppervlak binne die aarde se donker skadu is. Die maan kan tydens dié fase ’n donkerrooi of koperagtige kleur vertoon, hoewel die presiese voorkoms van die maan van weerstoestande en jou ligging sal afhang.
Omdat die maan teen dié tyd laag in die westelike hemel sal wees en kort daarna ondergaan, sal mense met ’n onbelemmerde uitsig na die weste die beste kans hê om die verskynsel te sien.
Anders as met ’n sonsverduistering is geen spesiale oogbeskerming nodig om na ’n maansverduistering te kyk nie.
Die verskynsel is deel van ’n diep gedeeltelike maansverduistering wat oor dele van Afrika, Europa en die Amerikas sigbaar sal wees.
