Krugerwildtuin groei ná vloedramp sterker

Die Letaba-hoogwaterbrug voor herstelwerk.
Die Letaba-hoogwaterbrug voor herstelwerk. Foto: Verskaf.

Die herbou van die Krugerwildtuin ná verwoestende oorstromings in Januarie is in volle gang. Herstelwerk ter waarde van sowat R950 mil­joen is daarop gemik om nie net die skade te herstel nie, maar ook die wêreldbe­kende wildtuin beter vir oorstromings en ander uiterste ­weerstoestande toegerus te laat.

David Maynier, die minister van bosbou, visserye en die omgewing, het op ’n besoek van 12 tot 15 Augustus aan die wildtuin ’n eerstehandse ervaring gekry van die vordering met die herstel van paaie, brûe, kampe en ander kritieke infrastruktuur.

“Klimaatsverandering is ’n werklikheid en daarom sal ons meer gereeld sulke ernstige oorstromings soos dié in Januarie vanjaar beleef,” het Maynier gesê.

“Ons moet dit in ag neem wanneer ons skade herstel of nuwe infrastruktuur bou en meer veerkragtige geriewe ­ontwerp, wat uiterste weerstoestande kan weerstaan. Dit geld vir al ons nasionale parke.”

Een van die gebiede wat die swaarste getref is, is die Letaba-­ruskamp, waar herstelwerk steeds voortduur.

SANParke het reeds die kampeerterrein heropen, terwyl ander minder beskadigde toeriste-eenhede stelselmatig weer beskikbaar gestel word.

Die Letaba-hoëvlakbrug, wat ook ernstige skade opgedoen het, is intussen weer oop vir verkeer en die laaste werk aan die herbou daarvan is naby voltooiing. Die A- en B-kringe by Letaba sal na verwagting in September weer in gebruik wees.

Die Letaba-brug nou.
Die Letaba-brug nou. Foto: Verskaf.

Volgens Maynier is die doelwit egter groter as bloot om die Krugerwildtuin ná die Januarie-­vloed te herstel.

“Die herstelwerk wat gedoen word, gaan nie net daaroor om die skade te herstel nie, maar ook om meer moderne en veerkragtige geriewe vir die toekoms te bou,” het hy gesê.

“Ons nasionale parke is waardevolle omgewingsbates, en die Krugerwildtuin is die juweel in ons kroon. Ons moet seker maak dat dit in stand gehou en vernuwe word.”

David Maynier, die minister van bosbou, visserye en die omgewing, bekyk die Kruger­wildtuin uit die lug.
David Maynier, die minister van bosbou, visserye en die omgewing, bekyk die Kruger­wildtuin uit die lug. Foto: Verskaf.

Die omvang van die herstelprojek beklemtoon die enorme impak van die oorstromings.

SANParke sê die ramp het paaie, brûe, verblyf en noodsaaklike water- en ander infrastruktuur beskadig.

Maar terwyl beton, paaie en brûe herbou word, is daar ook ’n groter fokus op die mense wat uiteindelik die wildtuin besoek.

“Die gaste-ervaring moet ’n sleutelfokus van toekomstige beleggings wees, want ons wil hê families en vriende moet bymekaarkom en blywende herinneringe van hul tyd in die wildtuin skep,” het May­nier gesê.

Hy het bygevoeg dat terug­voering van gaste tydens sy besoek oorwegend positief was, en dat enige probleme wat geïdentifiseer is, deur parkbestuur opgelos sal word.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos