Dit moes net gebeur het! Suid-Afrika het die tweede toets van die Greatest Rivalry-reeks in Kaapstad 33-26 gewen.
Gerhard Steenekamp – 7: Verlaat veld in die 36ste minuut. Doen die donkiewerk.
Deon Fourie – 6: Ook net 36minute op die veld. Ingooiwerk goed by die lynstane. Besig, soek werk, kan tevrede wees met sy werkverrigting.
Thomas du Toit – 7: Thomas the Tank. Solied en speel die veld vol. Kragvertoning.
Eben Etzebeth – 8: Speel kliphard, aggresief op die aanval. Een van sy beter wedstryde in ’n lang tyd. Kompeteer en ontwrig die All Black-lynstane.
Ruan Nortjé – 7: Speel sy hart uit. Niks flashy nie. Gooi sy lyf rond en doen sy deel met oorgawe.
Siya Kolisi (k) – 8: Indrukwekkend. Druk ’n drie in die 38ste minuut. Inspirerend en lei van voor. Vervang in 42ste minuut. Kan meer as tevrede voel met sy vertoning.
Pieter-Steph du Toit – 8: Sy liefde vir die Boktruie wys in elke wedstryd. Puik op die aanval en verdediging. Meer kan jy nie van PSdT verwag nie.
Jasper Wiese – 8: Op huidige spelpeil het die man nie geen gelyke nie. Gee sy alles op die aanval en verdediging.
Cobus Reinach – 8: Puik wedstryd. Maak vinnig skoon agter oond. Goed op die aanval en verdediging. Sy taktiese skopwerk op die spreekwoordelike tiekie.
Sacha Feinberg-Mngomezulu – 8: Briljante lakwerk stop ’n drie in die 11de minuut. Aansienklik beter as op Ellis Park.
Ethan Hooker – 8: Briljant onder die hoë bal. Meer as indrukwekkend met die bal in die hand en wen veld.
Damian de Allende – 7: Verdien sy drie in die 22ste minuut. Hardloop sterk met die bal, kom oor die voordeellyn. Besering op halftyd tydens puik lakwerk opgedoen.
Jesse Kriel – 7: Druk ’n drie in die tweede minuut. Die agterlyn se klaskaptein, organiseer en hou die Bok-verdedigingslyne in plek.
Cheslin Kolbe – 8: Aangewys as Speler van die Wedstryd. Bly ’n kopseer vir die verdediging met die bal in hand. Korrel sekuur pale toe. Hou die verdediging aan die raai op die aanval./x
Damian Willemse – 7: Puik duikslag op halftyd. Stil wedstryd maar doen sy werk.
Malcolm Marx – 7: Bewerkstellig omkeerbesit, en gee die verdediging hoofbrekens.
Ox Nche – 7: Soos ’n blikkie boeliebief, stampvol vleis en daai vleis skrum, hardloop en tackle.
Wilco Louw – 7: Stil wedstryd in die tweede helfte.
Lood de Jager – 6: Vervang Nortje. Kry ’n geel kaart. Gemiddelde spel.
Andre Esterhuizen – 7: Vervang Kolisi op flank. Hardloop soos ’n wegholtrein met die bal.
Cameron Hanekom – 6: Nie veel kanse in die tweede helfte gekry nie.
Morné van den Berg – 6: Nie so effektief en lastig soos Reinach nie.
Manie Libbok – 7: Vervang Willemse op heelagter. Maak heelwat duikslae.
