Welgedaan, Bokke, maar kommer oor tweede helfte-vertonings

Bok-flank Pieter-Steph du Toit hardloop bal in hand tydens ’n vorige wedstryd teen die All Blacks.
Bok-flank Pieter-Steph du Toit hardloop bal in hand tydens ’n vorige wedstryd teen die All Blacks. Foto: AFP.


Klinies. Akkuraat. Aggresief.

Dit kon nie anders nie, die Greatest Rivalry-reeks moes ten alle koste lewend gehou word. En dit was ook die geval met ’n begeesterde Bok-oorwinning van 32-26 Saterdagaand in Kaapstad.

Pieter-Steph du Toit het ná die wedstryd gesê hulle was met die rug teen die muur en daar is net een pad uit. Vorentoe. Vorentoe was dit inderdaad.

’n Paar ligpunte voor ons kom by dinge wat pla

Cobus Reinach.
Cobus Reinach.

Daar was verskeie puik individuele pogings maar as span het die ouens gejel, iets wat nie op Ellispark die geval was nie.
Gee die keiser wat hom toekom.

  • Siya Kolisi was puik.
  • Eben Etzebeth het een van sy beter vertonings gelewer.
  • Sacha Feinberg-Mngomezulu het ná n powere vertoning in die Goudstad weer gewys hoekom hy as die toekoms van die 10-trui beskou word.
  • Cobus Reinach moes op die kortlys wees vir Speler van die wedstryd.

Wat wag Saterdag op die Bokke?

Die tafel is gedek vir wat ’n feesmaal komende Saterdag gaan wees by die FNB-stadion. Die uitslag sal ’n duidelike rigtingwyser wees vir wie as die kampioen van die geskiedkundige toer gekroon sal word.

Die vreugde vure moet liefs eers nie té hoog brand nie.

Daar is heelwat in aanloop tot die eerste twee toets geuiter. Eers is Bokke se hoofafrigter, Rassie Erasmus, deur Dave Rennie geteiken omdat hy glo die Bokke maak die tempo van die spel te stadig.

Rassie het dit as loutere onsin afgemaak.

Toe wou die twee vir ’n bier gaan na hulle gevoel het dis onnodig om met die skeidregter te vergader.

Nou word daar weer gesê dat die Bokke “om die skrum loop”. Daar word nie reguit geskrum nie, is die argument. Taktiek om dalk die kalklig te skuif van ’n skrum wat nie regtig sy man kan staan teen ’n Bok-voorry nie?

Klaagliedere. Kopspeletjies. Noem dat wat jy wil.

Dinge wat pla

Dit is kommerwekkend hoe die Nieu-Seelanders gate in die Bok-verdediging gehardloop het, veral in die tweede helfte. Nege drieë teen vier. Vyf drieë vir die All Blacks in die eerste wedstryd op Ellis Park en vier in die tweede in Kaapstad.

Dit was slegs André Esterhuizen wat op Ellis Park vir vyf punte kon sorg in die 14de minuut.

In Kaapstad was Jesse Kriel reeds in die tweede minuut oor. Sy sentermaat, Damian de Allende, het in die 21ste minuut oorgeduik en kaptein Siya Kolisi het kort voor rustyd sy drie aangeteken.

Die Bokke se drieë was almal in die eerste helfte. Dis ’n rooivlag. Iets wat daarwerklik aandag sal verg.

Vyf van die besoekers se nege drieë in altwee wedstryde was in die tweede helfte aangeteken.

Dit sal onregverdig wees om te sê die Bokke speel net een helfte. Maar dat daar ’n gesukkel in die tweede helfte is, is gewis.
En dis juis waar Rassie dié reeks gaan wen of verloor . . . die laaste 40 minute.

Breinfloutes maar ook liggie in die tonnel

Nog ’n kwelpunt is ’n breinfloutes met dissipline wat ook in die tweede helfte bly opduik.

Daar was drie geel kaarte sover in dié reeks. Almal teen Suid-Afrika. Almal in die tweede helfte.

Daar is lig in die tonnel in die vorm van Cheslin Kolbe. Die spoedvraat met sy bedrieglike dartellopies het ontaard in ’n betroubare stelskopper. Op Ellis Park het die Bokke gulsig geraak toe hulle die kantlyn opgesoek en nee dankie vir drie pasella punte gesê het.

Saterdag in Kaapstad was dit ’n ander storie. Kolbe het gister die telbord aan die rol gehou met sy stelskoppe in die tweede helfte. Was dit nie vir hom nie, was die land vanoggend dalk in sak en as.

Daar moet nog baie water in die see loop voor die afskop Saterdagmiddag net buite Soweto. Daar sal met dringendheid vandeesweek aandag gegee moet word om die verdediginsgate te stop. Die hoëveld is droog, die veld gaan uitgeknip wees vir hardloop rugby. Die Nieu-Seeland weet dit en lek reeds hul lippe af.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos