Ongeveer $1,1 miljoen ‘jihadistiese dwelms’ in Nigerië onderskep

Captagon kom in verskillende vorme voor, maar hierdie is betreklik kenmerkend.
Captagon kom in verskillende vorme voor, maar hierdie is betreklik kenmerkend.

Nigerië se dwelmbeheeragentskap het Sondag gesê hy het ’n besending captagon onderskep wat op pad was na die insurgensie-geteisterde noorde van die land, waar jihadistiese geweld al langer as 17 jaar woed. Die stimulant word die “jihadistiese dwelm” genoem.

In seep versteek

’n Verdagte, Akinbile Kazeem Aikins, het 47 200 captagon-tablette en “miljoene opioïede” wat in seep versteek was, vanuit Ghana ingebring, het die woordvoerder van die land se dwelmbeheeragentskap (NDLEA), Femi Babafemi, in ’n verklaring gesê.

“Ná sy inhegtenisneming het Akinbile beweer hy moes die besending in die noorde aflewer,” het Babafemi gesê. Hy het die straatwaarde van die dwelms op 1,5 miljard naira (ongeveer $1,1 miljoen) geraam.

Captagon staan bekend as die “jihadistiese dwelm” weens berigte dat dit gebruik word om ekstremistiese bedrywighede in konflikgebiede te finansier.

Volgens die Verenigde Nasies het dit veral wydverspreid in Sirië geword, waar dit onder die voormalige president Bashar al-Assad ’n belangrike onwettige uitvoerproduk geword het.

‘Terroriste en bandiete’

Nigerië beveg sedert 2009 ’n jihadistiese opstand in die noordooste, asook geweld deur nie-ideologiese “bandiet”-bendes wat mense vir losprys ontvoer in die noordweste en noord-sentrale streke.

In September 2021 het die NDLEA 451 807 captagon-tablette by ’n hawe in Lagos beslag gelê.

Nog 10 000 tablette is in April in die noord-sentrale deelstaat Kwara in beslag geneem. Vermeende jihadiste het in Februarie tydens ’n aanval op ’n dorpie daar minstens 165 mense doodgemaak en tientalle ontvoer.

Babafemi het in ’n vroeëre onderhoud met AFP gesê “terroriste en bandiete” gebruik dwelms “sodat hulle hul kwaadwillige bedrywighede kan uitvoer”.

Wat is captagon?

Captagon is ’n sintetiese stimulant wat oorspronklik in die 1960’s vervaardig is om mediese toestande soos aandagafleibaarheidsversteuring en narkolepsie te behandel. Dit is oorspronklik deur ’n Duitse maatskappy, Degussa Pharma Gruppe, vervaardig en destyds was dit ’n kombinasie van amfetamien en teofillien.

Dié dwelm is in die tagtigerjare deur die WGO en wêreldwye reguleerders verbied omdat dit tot ernstige verslawing, hallusinasies en ander gevaarlike newe-effekte gelei het.

Deesdae vervaardig talle onwettige laboratoriums in Europa en die Midde-Ooste, veral Sirië, nagemaakte pille en verkoop dit as captagon. Terloops, omdat dit nie die oorspronklike pil is nie, word captagon nie met ’n hoofletter geskryf nie.

Deesdae vervaardig talle onwettige laboratoriums in Europa en die Midde-Ooste, veral Sirië, nagemaakte pille en verkoop dit as captagon. Die bestanddele is ook nie meer volgens die oorspronklike produk nie en word deur amfetamiene, kafeïen, metamfetamien en ander goedkoop chemikalieë saamgeflans.

Daar word ook na die moderne captagon as chemical courage verwys vanweë soldate se gevoel dat hierdie dwelm hul fokus en energie gee.

Bykomende bronne: theconversation.com, https://pmc.ncbi.nlm.nih.gov/, aljazeera.com


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos