Roger Federer: ‘Gelukkige trane’, 7 000 pare sokkies en 5 000 haarbande later

Roger Federer. Foto: Joe Buglewicz/AFP
Roger Federer. Foto: Joe Buglewicz/AFP

’n Betraande Roger Federer is Saterdag in tennis se heldesaal opgeneem en het sy amptelike toetrede tot die sport se eregalery beskryf as een van die “grootste eerbewyse van my lewe”.

Die 45-jarige 20-malige Grand Slam-enkelspelkampioen is telkens deur emosie oorweldig terwyl hy ’n gehoor vol tennislegendes toegespreek het tydens ’n seremonie in Newport, Rhode Island.

Die Switserse legende, wat in 2022 uit tennis getree het, het hulde gebring aan die teenstanders, beamptes, ondersteuners, familie en vriende wat sy loopbaan met hom gedeel het tydens ’n lang toespraak wat as ’n liefdesbrief aan die sport ontvou het.

“Dit is een van die grootste eerbewyse van my lewe,” het Federer gesê. “Hulle noem dit die heldesaal, maar roem was nooit die doel nie.

“My doel was om my lewe te wy aan iets waarvan ek hou … saam met mense wat net soveel daarvan hou soos ek.”

’n Loopbaan in syfers

In ’n ligte inleiding het die agtmalige Wimbledon-kampioen sy loopbaan aan die hand van van sy minder bekende statistiese mylpale opgesom.

“Nie die ooglopende syfers soos die aantal Grand Slam-titels of die aantal weke op nommer een nie,” het Federer gesê. “Ek praat van die syfers wat werklik ’n prentjie skets. Tussen 1998, toe ek die eerste keer op die ATP-toer gespeel het, en my uittrede in 2022, het ek meer as 5 000 haarbande gedra. Dit is meer as (Björn) Borg en (John) McEnroe saam.

“En as jy dink dit is indrukwekkend, het ek waarskynlik meer as 7 000 paar sokkies gedra. Dit is waarskynlik twee keer soveel as die meeste van my teenstanders, omdat ek twee pare op ’n slag gedra het.

“Maar werklik, daar is geen manier om te meet wat dit beteken om hier te wees nie. Dit is moeilik om dit in woorde te omskryf,” het Federer gesê terwyl hy teruggedink het aan sy reis van ’n 13-jarige baljoggie by ’n ATP-toernooi in Basel tot die toppunt van tennis.

“Ek wil regtig elke baljoggie bedank wat ooit ure lank tydens my wedstryde, of al ons wedstryde, langs die baan gestaan het,” het Federer gesê. “Ek sien julle. Ek bedank julle. Ek was julle.”

Federer moes trane afvee terwyl hy sy afgod Stefan Edberg, ander tennissterre, familie en ondersteuningspersoneel wat hom deur sy loopbaan geïnspireer het, by die naam genoem het.

“Ek het nou sneesdoekies en ’n sonbril en alles nodig om my te beskerm,” het hy grappenderwys gesê. “Dit is ’n totale gemors.”

“Dit was ’n ongelooflike reis,” het Federer gesê. “Vir my bied die tennis se heldesaal ’n wonderlike geleentheid om terug te kyk, maar ook om vorentoe te kyk,” het hy bygevoeg.

“Soos julle kan sien, skryf ek steeds my liefdesbrief aan tennis. My tyd as speler is verby, maar tennis sal altyd op die kruispunt staan van alles wat vir my die belangrikste is: my familie, ons vriendskappe, die afgelope 40 jaar en die toekoms wat ons bou. Tennis is vir my verantwoordelik vir dit alles.”

Mirka Federer

Dit was nie net Roger wat emosioneel was nie. Sy vrou, Mirka, kon ook nie haar emosies in toom hou toe sy haar man aan die gehoor bekendgestel het nie.

“My man, my beste vriend . . . en nou die nuutste lid van tennis se heldesaal,” het sy met ’n emosioneel-belaaide stem gesê.

Suid-Afrika is ook op die lys

Benewens die feit dat Roger Federer se ma, Lynette Federer (née Durand) van Kempton Park-omgewing is, beskik Roger ook beide Switserse as Suid-Afrikaanse burgerskap.

Frew McMillan se naam is in 1992 ook by die ikoniese heldesaal ingesluit.

Sy spanmaat, Bob Hewitt, was ook oorspronklik ingsluit, maar in 2016 is sy naam van die lys verwyder nadat hy tydens ’n opspraakwekkende verhoor skuldig bevind is aan kindermolestering.

In 2013 het Cliff Drysdale ook sy buiging in die heldesaal gemaak uit erkenning vir sy bydrae tot die vorming van die ATP (die vereniging van professionele tennisspelers).

Maar hoe word daar op insluiting besluit?

Vanaf 2025 is 270 individue in die heldesaal opgeneem wat 28 lande wêreldwyd verteenwoordig.

Daar is ’n sewe-stap-proses om in tennis se heldesaal opgeneem te word. ’n Speler of bydraer moet eerstens vir opname genomineer word, waarna die nasionale opnamekomitee hul geskiktheid beoordeel. Sodra bepaal is dat die genomineerde aan die vereistes voldoen, besluit die komitee of die persoon vir oorweging deur kiesers sal kwalifiseer.

Daarna begin die stemproses, waartydens sowel ’n amptelike kiesersgroep as ondersteuners stem. ’n Genomineerde moet minstens 75% van die stemme van die amptelike kiesersgroep ontvang, óf ’n gesamentlike totaal van minstens 75% behaal uit die amptelike kiesersgroep se uitslag en enige bonuspersentasiepunte wat deur die ondersteunersstemming verdien word.

Die stemme word deur ’n onafhanklike rekenmeestersfirma getel en die uitslae word in Januarie aangekondig. Die nuwe klas se opnameplegtigheid vind dan in Julie by die Newport Casino plaas, waar die heldesaal gehuisves word.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos