Bob Skinstad: Rennie se stilte is oorverdowend

Bok-kaptein Bob Skinstad.
Bok-kaptein Bob Skinstad. Foto: Verskaf.

As jong speler het ek baie foute gemaak. Ek was baie gelukkig om saam met puik individue in ’n paar wonderlike spanne te speel, saam met die Springbokke te toer, ’n paar bekers te wen en deel van fantastiese veldtogte te wees.

Maar sodra ek enigiets gedoen het wat nie bloot met my prestasie op die veld verband gehou het nie, kon ek voel hoe die krake begin wys.

Ek kon werklik die verskil in my spel aanvoel. Ek het destyds ’n baie ambisieuse en entoesiastiese agent gehad – ek was een van die eerste spelers in die land wat ’n agent gehad het.

Hy het my as die gesig of verteenwoordiger van bykans enigiets aangebied – optredes, aandetes en sulke dinge.

Dit het my fokus regtig weggeneem. Toe ek hierdie week terugdink aan daardie dae terwyl ek twee ongelooflike, hoëtempo en intense rugbywedstryde gekyk het, het dit my laat besef dat Dave Rennie en Rassie Erasmus in ’n bekgeveg gewikkel is om juis dít vir hul spelers moontlik te maak.

Almal spring in! Het ons reg geskrum? Het ons hoog gelak? Het hulle die skeidsregter beïnvloed? Het ons iets verkeerd gedoen?

Die bespiegelings en gesprekke rakende die wedstryde het eintlik nie een van die spelers op die veld aangeval nie. Suid-­Afrika het ’n paar veranderinge weens beserings gemaak. Dit is omtrent al hoe dit die spelers geraak het.

Dit is ’n groot pluimpie vir hier­die meesters van die afrigtingskuns, want hulle het al die druk van daardie spelers af geneem en hulle toegelaat om op die spel te fokus. Miskien is dit hoekom die standaard so hoog was; miskien is dit hoekom die wedstryde so fel was.

Miskien is dit hoekom hulle die beste afrigters ter wêreld is.

Statistieke is oor die totale speeltyd van hierdie Springbokgroep in vergelyking met Nieu-Seeland bekendgemaak.

Rassie Erasmus was baie reg­uit toe hy gesê het hulle kon die groep genoeg roteer sodat die spelers nie buitensporig moeg gaan wees weens ’n paar ekstra minute op die veld nie.

Natuurlik is daar fisieke bot­sings en die ekstra bydraes van spelers, maar oor die algemeen dink ek die Springbokke het ’n redelik gesonde gemiddelde rustyd gehad in vergelyking met hul teenstanders – wat dit teëwerk deur gemiddeld jonger te wees.

Die verskil in ’n toetswedstryd kan een systap wees wat net ’n bietjie te ver of te kort is; een onderskep-bal wat nie in jou hand beland nie, of wel, omdat jy daardie ekstra woema oor het; een duikslag wat jy mis of wel uitvoer, afhangend van jou fisieke toestand.

Ek dink dus ’n groot faktor sal wees hoe vars ons die Suid-Afri­kaanse spelers wat mekaar so goed ken, kan hou.

In vergelyking met Erasmus was Rennie se stilte dié week oorverdowend. Dit is werklik ’n wedstryd in die media wat in die hemel gemaak is, en die swaargewig-afrigters met die beste spelers en hulpbronne speel ook hul eie speletjies. Heerlik om dop te hou!

Ons moet die feit respekteer dat hierdie jong Nieu-Seelandse span mekaar werklik gevind het en van bykans enige plek af kan aanval.

Hulle het die wydte van die veld beter as ons benut. Hulle het die kombinasies en aangee tussen voorspelers en agterspe­lers beter as ons gebruik en hulle kon wegbreek en drieë druk danksy daardie wydte en hul aanvallende ingesteldheid.

Dit is iets wat Suid-Afrika sal moet aanhou om teë te werk.

Ek het gesien hoe Jesse Kriel veral in die laaste minute van die wedstryd hard gewerk het aan die ‘buite-na-binne’-verde­diging.

Pieter-Steph du Toit het dit ook gedoen, maar dit was André Esterhuizen se omgekeerde balbesit aan die ander kant van die veld in die laaste minuut, wat beteken het ons kon steeds die wedstryd met ’n gemaklike sewe punte wen – al was Nieu-Seeland vir ’n baie, baie lang tyd in besit.

Voluit, alles ingesit, vir die volle wedstryd – dit sal beteken dat oorwinning vir een span moontlik is, terwyl die ander span hoogstens op ’n gelykopuitslag kan hoop.

Dan na Baltimore toe!!

Sjoe, ek is sommer nou al opgewonde én senuweeagtig oor dié een!

Aan die vermaak- en pretkant was “how low can you go” die meme van die week. Welgedaan aan die borge en vennote wat hulself op die voorblaaie van koerante regoor die wêreld bevind het! Maak meer vlieënierskole in Suid-Afrika oop. Die vlieëniers is uitsonderlik en waaghalsig dapper!

Dit is goed om te sien hoe oudspelers en ontleders by die gesprekspunte inspring en die toer een van die mees opwindende toere in onlangse geskiedenis maak. Maar, nog belangriker vir my, is dit goed om te sien hoe almal dit geniet.

Dit is wonderlik om Justin Marshall, Schalk Burger, John Smit, Hanyani Shimange, Andrew Mehrtens en sulke ouens oor die Buffalo-klub te hoor praat, waar mense glo nie ’n bier in hul regterhand mag vashou nie, en foto’s plaas van diegene wat dié fout gemaak het. Skreeusnaaks.

Dit is ook lekker om te sien hoe Dan Carter, Richie McCaw en Beaver hul dag in Kaapstad begin deur Tafelberg uit te draf.

Hulle behoort almal ’n draai by The Alexander Estate aan die rand van Noordhoek Village te gaan maak. Dit is asemrowend mooi en bied die beste wyn en gasvryheid op die Skiereiland!

Dit is goed om te sien hoe mense soos Bakkies Botha oudspelers en ondersteuners in die Suid-Afrikaanse bosveld onthaal op safari, met ’n paar biere en waarskynlik ook ’n brandewyn of twee, terwyl hulle gesprekke voer wat soveel vir die spel beteken.

Dit is ook goed om te sien hoe oudspelers in die kommentatorspan tyd saam met hul voormalige teenstanders deurbring.

Sean Fitzpatrick en Zinzan Brooke geniet Suid-Afrika, geniet hul tyd hier en sien hul ou opponente weer op die veld. Dit is wonderlik om die aard van rugby en die verhoudings wat dit regoor die wêreld skep, te sien.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos