Dit was die mense in die straat, die vlae, die gedruis van die stadion – die besef van die belangrikheid van die Boktruie.
Dís hoe die voormalige Springbok-afrigter Heyneke Meyer die toets in 2012 in die FNB-stadion teen Nieu-Seeland onthou.
“Dit is ’n ongelooflike plek om ’n toetswedstryd te speel. Die eerste ding wat jou tref is die grootte van die stadion.
“Die skare voel steeds naby aan die speelveld en die energie is ongelooflik met die geraas van die ondersteuners wat soos ’n golf deur die stadion trek.”
Volgens Meyer het die busrit na die stadion soos ’n nasionale gebeurtenis gevoel.
“Die trots, passie en energie was tasbaar. Die ondersteuners gee jou ongelooflik baie energie, maar die groot uitdaging is egter om nie toe te laat dat die geleentheid te groot raak nie. Jy moet besef die ondersteuners kan nie die wedstryd namens jou wen nie.”
Ten spyte van die geesdrif en ’n see van groen-en-goud, kon Suid-Afrika egter nog nie een van die twee toetse teen die All Blacks, wat hier gespeel is, wen nie.
Die Bokke het die eerste toets in dié stadion in 2010 onder die Bok-afrigter Peter de Villiers 22-29 verloor.
Twee jaar later moes die Bokke weer die knie buig. Dié keer met 32-16 nadat hulle nog met die draaislag 16-12 voor was.

Meyer onthou die toets 14 jaar gelede met gemengde gevoelens. “Dit was ’n ongelooflike toetswedstryd, maar ons was aan die begin van ’n nuwe era en besig om ’n span te bou.
“Ons het teen ’n uiters ervare All Black-span gespeel. Daai span is deur baie as een van die beste spanne van alle tye beskou wat die vorige jaar die Wêreldbeker gewen het.
“Ons het baie goed begin met Bryan Habana wat ’n drie gedruk het. Ons was rustyd met 16-12 voor, maar hulle het die tweede helfte met 20-4 gewen.
“Die groot verskil was hul vermoë om elke geleentheid te benut, waar ons – soos twee weke gelede op Ellispark – kanse onbenut gelaat het.”
Meyer is positief oor môre se toets en glo van harte dit gaan derde keer skeepsreg wees.
Die twee spanne is ook in ’n ander posisie, vergeleke met 14 jaar gelede.
“Destyds het hulle die ervare kaptein, gevestigde span en ervare afrigtingspan gehad. Dit terwyl ons aan die begin van ons ontwikkeling en boufase was. Nou is dit die Springbokke wat oor ’n uiters ervare kaptein, gevestigde kern van spelers en baie ervare afrigtingspan beskik.”
Met die Greatest Rivalry-reeks wat tans gelykop is, het Suid-Afrika ’n gulde geleentheid om hul neuse voor te kry voor die laaste toets in Baltimore volgende naweek.
“Suid-Afrika moet op hul sterk punte fokus. Hulle moet die All Blacks dwing om volgens Rassie se wedstrydplan te speel. Sterk vaste fasette, fisieke druk, direk op die aanval, goeie taktiese skopwerk en ’n oorheersende lugstryd.”
Die oud-Bokbreier het ook ’n waarskuwing gerig oor die laaste 40 minute.
“Die All Blacks is uitstekend daarmee om die tempo later in die wedstryd te verhoog en spanne moeg te hardloop.
“Ons kragtige plaasvervangerbank kan daardie bedreiging neutraliseer en selfs die fisieke druk in die laaste kwart verder verhoog.”
