Die waterkrisis in Tshwane het nou amptelik ’n verkiesingswapen geword en die DA se jongste reklamebord met die woorde “Take back your city from water tanker mafia! Vote DA” het die politieke moddergeveg oor watertenkerkontrakte na ’n nuwe vlak geneem. “Dit is tipies soos bemarkingskommunikasie of ’n vorm van propaganda en dit het wel ’n impak op stemme,” sê prof. Erwin Schwella, ’n politieke kenner.
Cilliers Brink, die DA se Tshwane-burgemeesterskandidaat, het verlede naweek ’n reklamebord in Hammanskraal bekend gestel met die boodskap dat ’n stem vir ActionSA en die ANC ’n stem vir watertenkers is.
Die DA beweer die stad het in een boekjaar R777 miljoen aan watertenkers bestee en beskuldig die ANC-geleide koalisie daarvan dat hy permanente wateroplossings laat stagneer het. “Die ANC moet hulself nou teen die plakkaat se impak verweer. Dit sê ook hulle dink dit het impak,” sê Schwella.
Die party praat van ’n water-tenkermafia en beweer dat maatskappye wat aan senior ANC-figure verbind word, miljoene rand uit die kontrakte ontvang het. Dié bewerings word deur die betrokkenes betwis, terwyl ’n ondersoek deur die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) reeds die water-tenkerbesteding ondersoek.
Die aanval het summier ’n teenaanval ontlok.

Michael Beaumont, die nasionale voorsitter van ActionSA, het in ’n mediaverklaring gesê die DA probeer ’n krisis uitbuit waarin vorige DA-regerings volgens hom ook verantwoordelikheid dra. Hy voer onder meer aan dat R180 miljoen van die sowat R777 miljoen-syfer betrekking het op uitstaande fakture uit ’n vorige boekjaar. ActionSA sê in dieselfde verklaring ook watertenkerbesteding is sedert Nasiphi Moya se ingryping met 79% verminder.
Panyaza Lesufi, die Gautengse premier, het in onderhoude op onder meer die SABC die DA intussen van politieke opportunisme beskuldig en daarop gewys die bestaande watertenkerkontrakte is onder die DA se bewind ingestel.
Volgens Schwella bestaan ’n belangrike rede egter waarom partye sulke plakkate en reklame borde gebruik – dit werk nie noodwendig net deur kiesers direk te oortuig nie, maar ook deur teenstanders te dwing om daarop te reageer. Volgens hom kan ’n plakkaat mense óf vir ’n party laat stem, óf hulle van ’n teenstander vervreem. “Dit sou nie gebruik gewees het as geen aanduidings bestaan het dat dit wel ’n impak op stemme het nie.”
Die woord “mafia” dra volgens hom besonder sterk emosionele betekenis omdat dit onmiddellik beelde van georganiseerde misdaad oproep, maar juis daarom kan die strategie gevaarlik wees.
As ’n boodskap te aggressief of irriterend raak, kan dit kiesers eerder teen die party, wat dit versprei, laat draai.
Die waterkwessie self kan egter ’n veel groter rol speel as enige enkele plakkaat.
“Water kan ’n groot faktor wees,” sê Schwella. Hy waarsku diensleweringsprobleme kan nie net stemme direk verskuif nie, maar ook kiesers ontmoedig om hoegenaamd te gaan stem.
- Die plaaslike regeringsverkiesings vind op 4 November vanjaar plaas.
