Weertoestande kan Bokke-kragmeting in ’n taai stryd verander

Bokke Handré Pollard en Damian de Allende lak ’n Kiwi tydens die Rugbywêreldbeker-eindstryd in 2023.
Bokke Handré Pollard en Damian de Allende lak ’n Kiwi tydens die Rugbywêreldbeker-eindstryd in 2023. Foto: Miguel Medina / AFP.

Die Springbokke en die All Blacks pak mekaar laat middag in ’n taai derde toets in die Greatest Rivalry-reeks.

Hoewel daar aanvanklik voorspelling was vir swaar donderstorms, reën en die moontlikheid van weerlig wat oor Johannesburg weergalm, het dit intussen oopgetrek met koue winde. Die weer kan by die FNB-stadion ’n onverwagte derde faktor in die kragmeting word.

Tydens die Bok-vroue se kragmeting teen die All Blacks, was daar min Bok-truie en baie meer Bok-baadjies gesien as gevolg van die koue dag. Winderige toestande maak die spel moeiliker veral wanneer die bal geskop word, en hoë balle gevang moet word.

Sou stormweer weer besluit om sy verskeining te maak tydens vanaand se kragmeting, kan die uiterste weer toestande die spel verder beïnvloed. Volgens voorspellings is stormweer steeds moontlik omstreeks dieselfde tyd as die wedstryd, wat beteken dat die meer as 90 000 ondersteuners wat na die FNB-stadion stroom, hulle vir nat en potensieel stormagtige toestande sal moet gereed maak.

Weertoestande kan ’n impak hê op vanaand se kragmeting teen die All Blacks

Airlink het reeds die tradisionele voorwedstryd-verbyvlug weens die gevaarlike weersomstandighede afgestel.

Maar dit is nie net die ondersteuners wat die weer in ag sal moet neem nie. Op die veld kan swaar reën die aard van die wedstryd drasties verander.

’n Nat bal is moeiliker om hanteer en kan vinnige agterlynbewegings en presiese aanvalbewegings bemoeilik. Een klein foutjie kan maklik in ’n aanslaan of omkeerbesit verander.

Dit kan ook beteken dat albei spanne meer konserwatief met balbesit omgaan en hul skopspel opskerp. Met ’n gladde bal en ’n nat veld word skoppe om veld te wen en skoppe om druk op die opponerende heelagter te sit nóg belangriker.

Voorsprong vir die fisieke span?

Die gure toestande kan veral die fokus op die voorspelers plaas.

In ’n wedstryd waarin balhantering moeiliker raak, word vaste fasette soos skrums en lynstane belangriker. Dit is waar die Springbokke se bekende fisieke aanslag en hul sogenaamde “Bomb Squad” moontlik ’n groot rol kan speel.

Wanneer bene moeg begin raak en die veld al swaarder word, kan ’n vars groep kragtige plaasvervangers die momentum van die wedstryd verander.

Die weer kan dus juis die soort rugby bevoordeel waarin die Bokke gemaklik voel: fisiek, intens en meedoënloos.

Tog sal die All Blacks nie noodwendig hul wedstrydplan laat vaar nie. Nieu-Seeland se kaptein, Ardie Savea, het aangedui dat die slegte weer nie hul benadering tot die wedstryd behoort te verander nie.

Dit kan die stryd selfs interessanter maak: die Bokke wat die fisieke en taktiese uitdagings van die nat toestande wil uitbuit teenoor ’n All Blacks-span wat daarop aandring dat die weer hulle nie van hul plan sal laat afwyk nie.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos