’n Nuwe kykNET-dokumentêre reeks werp die kollig op die vrae wat rugbygeesdriftiges al dekades lank teister – en dis veral nou relevant, met die Greatest Rivalry-reeks wat tans in Suid-Afrika aan die gang is.
Tweespalt is onlangs tydens die veertiende kykNET-Silwerskermfees aan die gehore bekendgestel. Hierdie dokumentêr, wat oor twee episodes strek, ondersoek die passie, geskiedenis en verdeeldheid agter een van rugby se grootste wedywerings – die Springbokke teen die All Blacks.
Ja, daardie bykans oer-oue liefde-haat-gevoelens tussen plaaslike ondersteuners oor wie nou eintlik die beste span in die wêrreld is: die All Blacks of die Bokke? En hoe kan Suid-Afrikaners die All Blacks ondersteun ten koste van hul eie?
Suid-Afrikaners hou daarvan om van mekaar te verskil. Nes die manne wat met ietsie koud in die hand gesels oor watter Duitse motorvervaardiger die beste is. Jy’s óf ’n BMW-ou of daardie driester van Mercedes kraai koning op jou werf.
Die tweespalt tussen die ondersteuners van die manne met die silwer varing op hul bors en die manne met die trotse springbok op daardie groen trui kom reeds van 1921 af.
Hierdie “veld van verdeeldheid” het nie net tot verdeeldheid in die stadion gelei nie – selfs families was al behoorlik die hoenders in vir mekaar omdat tweespalt oor die twee spanne ook daar nes geskop het. En dis soms baie erger as die stryd oor familiename of byderwetse name vir die volgende geslag . . .

Jonathan Mokuena, voormalige Springbok-seweskaptein en rugbykommentator, sê rugby was die één aspek wat die land na apartheid bymekaar getrek het.
“Dis ons siel, dis ons hart.”

En Ollie le Roux, veteraan van 54 toetse waarvan 10 teen die All Blacks was, sê onbeskroomd: “Dis deel van wie en wat ons is – en ons is blêrrie goed in dit.”
“Rugby is ’n kopspel, en dis ’n hardkoppige spel,” het Marco Botha laat hoor. Hierdie stelling het ook aanklank gevind by rocker Francois van Coke wat heeltemal begeesterd is met rugby en sy seuntjie baie sterk aanmoedig om daardie ovaal bal vaardig te raak.
Sy raad? “Beproef alles en behou die rugby.”
Vir Winston Williams van Somerset-Wes is daar die wonderlike herinneringe aan soggens vieruur se opstaan om die All Blacks te kyk. Sy ma het al die kinders in die straat bymekaar gemaak en almal het kom rugby kyk. Maar Winston was nooit toegelaat om die Bokke te ondersteun nie . . .

Breyton Paulse, wat 14 keer teen die All Blacks uitgedraf het, onthou ook daardie dae toe daar min televisiestelle in die omgewing was. Sy oupa Ben het hom altyd kom oplaai om die Bokke teen die All Blacks te kyk, min wetend dat sy toekoms eendag in rugby sou lê.

Dan is daar die Cape Crusaders, die passievolle All Black-ondersteuners van Kaapstad met ’n ondersteunersklub in Somerset-Wes. En wie het nog nie gehoor van die Manenberg Maoris nie?
Polities-gemotiveer of bloot voorkeur? Maar hoe swaar weeg die geskiedkundige politieke agtergrond wanneer daar vandag, meer as 30 jaar later, steeds Suid-Afrikaners is wat oënskynlik verkies om aan die verlede vas te hou? Of berus dit aan die einde van die dag bloot op persoonlike keuses?
Hoekom moet jy ‘Tweespalt’ kyk?
Daar word fassinerende feite, geskiedkundige datums en politieke onrus onder die loep gebring. Meer lig word gewerp op SACOS, ’n nie-rassige beheerliggaam vir sport in die land, en hoe die Suid-Afrikaanse Rugby-unie in 1992 tot stand gekom het.
Vind ook meer uit oor Errol Tobias wat die eerste gekleurde Springbok was wat in 1981 op die toer na Nieu-Seeland ingesluit was, selfs al was daar enorme druk vanuit eie geledere om dit nie te doen nie, maar eerder standpunt in te neem vir die bevordering van spelers van kleur in nasionale sportspanne.

Dit was juis tydens die Bokke se derde toetswedstryd in daardie jaar teen die All Blacks op 12 September by Eden Park in Auckland waar chaos uitgebreek het toe twee manne vanuit ’n gehuurde ligte vliegtuig meelbomme op die spelers vrygelaat het . . .
En was daar werklik ’n Suzie wat die All Blacks tydens die Wêrreldbekertoernooi in Suid-Afrika (1995) so ’n bietjie “aangehelp” het?
Deelnemers aan die gesprekke
Voormalige en huidige Springbokspelers

- Wynand Claassen
- Jonathan Mokuena
- Jannie du Plessis
- Victor Matfield
- Ollie le Roux
- Breyton Paulse
- Richard Bands
- Renaldo “Naledi” Young
Deurwinterde All Black-ondersteuners

- Benna October (voormalige WP- en Leeus-speler)
- Winston Williams (volbloed All Black-ondersteuner)
- Elroy Christians (volbloed All Black-ondersteuner)
“Hulle weet nie wat ons weet nie” – Springbok-ondersteuners

- Marco Botha (rugbykommentator en skrywer)
- Francois van Coke (sanger en rugbyfanatikus)
- Heindrich Wyngaard (TV-persoonlikheid en skrywer)
- John van Rensburg (SuperSport-rugbykommentator – en fanatiese versamelaar met byna 2 000 rugbytruie!)
- Walter Stander (‘Bokbefok’ in sy eie woorde) en sy ewe begeesterde seuntjie, Hanro (11)
Tweespalt word Woensdag 9 September om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai en sal ook op DStv Stream beskikbaar wees.
- Die vierde wedstryd in die Greatest Rivalry-reeks vind Saterdag 12 September om 23:00 (plaaslike tyd) in die M&T Banks-stadion in Baltimore, Amerika plaas.
