Countrysanger Tommy Dell kritiek ná ernstige motorongeluk

Countrysanger Tommy Dell.
Countrysanger Tommy Dell. Foto: Facebook.

Die Helderberg-gemeenskap is geskok nadat die countrysanger Tommy Dell (84) ernstig beseer en in die hospitaal opgeneem is ná ’n ongeluk in Mbombela Saterdagaand, 5 September, wat twee mense se lewe geëis het. Verskeie ander is beseer.

Volgens Moeti Mmusi, woordvoerder van Mpumalanga se departement van gemeenskapsveiligheid, sekuriteit en skakeling, het die ongeluk omstreeks 22:00 plaasgevind.

Die botsing het na berig word ’n sedan-motorvoertuig en ’n klein bakkie ingesluit. Mmusi het gesê die motor was besig om van die Mbombela-kant af in Hermansburgweg in te draai, terwyl die bakkie reguit van Barberton in die rigting van Mbombela gery het toe die twee voertuie in ’n T-botsing betrokke was.

Twee vroulike insittendes van die motorvoertuig – geïdentifiseer as Mara van der Bergh en Samantha Fuller – het op die toneel gesterf. Twee ander insittendes is ernstig beseer en nog twee het ligte beserings opgedoen.

Dell was een van die voertuig se insittendes wat ernstig beseer en in die hospitaal opgeneem is.

Solidariteit Helpende Hand Mpumalanga Laeveld- en KZN Noord-streek het die volgende geplaas: “Dit voel nog onwerklik om te dink dat Tommy Dell, Mara en Samantha so onlangs nog saam met ons by ons geselligheid was. Vandag is ons harte swaar ná die tragiese nuus van hul ongeluk.

“Ons dink met groot hartseer aan Mara van den Bergh en Samantha Fuller en hul families, en aan die ongelooflike leemte wat Mara in die musiekbedryf en in soveel mense se lewe laat. Rus sag.

“Ons gedagtes en gebede is ook by Tommy Dell wat nog kritiek in die hospitaal lê. Ons respekteer die familie se versoek om privaatheid en vra dat almal hulle gedurende hierdie uiters moeilike tyd die nodige ruimte gee. Ons dink ook aan Tommy se dogters en familie terwyl hulle hierdie beproewing deurstaan.”


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos