Springbok-afrigter Rassie Erasmus het verduidelik waarom hy bykans geen veranderinge aangebring het aan die span wat Saterdag in Baltimore teen die All Blacks in die vierde toets van die Greatest Rivalry-reeks te staan kom nie.
Daar is slegs twee veranderinge aan die span wat in Soweto gespeel het, met Damian Willemse wat na die beginspan terugkeer om die beseerde Cheslin Kolbe te vervang, terwyl Morné van den Berg van die plaasvervangersbank af bevorder is om op skrumskakel te begin.
“Ons voel die span is goed gevestig en al die spelers het hul onderskeie rolle in die afgelope twee wedstryde uitstekend vervul, daarom glo ons dit maak sin om dieselfde wedstrydgroep te kies en Damian terug te plaas in sy gewone posisie vir die laaste wedstryd van die reeks,” het Erasmus gesê.
“Hierdie spelers weet ook presies wat om te verwag van ’n baie vasberade All Blacks-span wat alles in die stryd sal werp om die reeks dié naweek gelykop te trek.”
Erasmus het verder uitgebrei oor die insluiting van Willemse en Van den Berg in die beginspan:
“Damian het die eerste twee toetse begin en as dit nie vir ’n klein besering verlede week was nie, sou hy ook daardie wedstryd begin het. Dit is goed om hom terug te hê. Hy is ’n gehalte-speler en ken die spelers om hom baie goed, so dit behoort bloot ’n geval te wees van voortbou waar hy voor verlede week opgehou het.”
Van den Berg was ’n uitskieter die afgelope Verenigde Rugbykampioenskap-seisoen en dit is veral in die Lions se tuiswedstryde in Johannesburg waar hy elke keer een van die beste spelers op die veld was.
“Morné, aan die ander kant, het verlede week ’n fantastiese impak gemaak toe hy op die veld gekom het en hy verdien ’n kans om te begin. Cobus skuif dus na die bank, waar hy waardevolle ervaring en vaardigheid in hierdie belangrike wedstryd sal toevoeg.”
- Saterdag se wedstryd skop om 23:00 Suid-Afrikaanse tyd af.
