Voormalige afrigter van die Bok-vroue Swys de Bruin: ‘Dit het net te veel geraak’

Swys de Bruin, voormalige hoofafrigter van die Springbok-vrouespan.
Swys de Bruin, voormalige hoofafrigter van die Springbok-vrouespan. Foto: Ashley Vlotman, Gallo Images.

Van ’n klein seuntjie wat kaalvoet die ryp van Ficksburg se velde trotseer het tot die Vroue-Springbokke se afrigter wat onlangs bedank het – Swys de Bruin slaan dalk ’n ander koers in, maar sy passie vir rugby is nog lank nie geblus nie.

De Bruin het in ’n gesprek met Die Papier gesê sy doelwitte as afrigter het nog altyd oor baie meer as net resultate gegaan.

“Ek wil nie net rugbyspelers ontwikkel nie – ek wil mense ontwikkel wat rolmodelle kan wees met selfrespek en hul medemens ook met die nodige respek hanteer.”

Hy het as afrigter verskeie hoogtepunte bereik en onder meer die Curriebeker in 2015 saam met die Leeus gewen.

De Bruin het ook verskeie Superrugby-eindstryde met die Leeus gehaal. Hy was as aanvals-afrigter lid van Rassie Erasmus se Springbokgroep.

Nog belangriker was “om altyd te kon sê dat ons ’n gelukkige en tevrede groep het en daarom is persoonlike verhoudings so ’n belangrike faktor”.

Met verwysing na sy rol as afrigter van die Bok-vroue het De Bruin gesê: Ek het aanvanklik nie heeltemal besef waarvoor ek my ingelaat het nie.

“Ek het wel vinnig beleef hoe wonderlik die omgewing is. My grootste uitdaging was om die persepsie by baie mense te verander dat vroue ook die spel kan speel, en goed ook. Dit was wonderlik om te sien hoe dankbaar baie van die spelers is nie net om rugby te speel nie, maar vir geleenthede om in hotelle te bly en te vlieg.”

De Bruin het na hul welslae verwys om vir die eerste keer vir ’n Wêreldbeker-kwarteindstryd verlede jaar te kon kwalifiseer as ’n hoogtepunt.

“Om onder die tien voorste lande gereken te word, het van hierdie spelers rolmodelle in hul gemeenskappe gemaak. Dit was regtig wonderlik om te aan­skou.”

Alles in ag genome was dit nie ’n maklik besluit om die Vroue-Bokke vaarwel te roep nie. “Ek glo eerstens in ­seisoene en dat afrigters, met enkele uitsonderings, nie langer as twee tot vier jaar by ’n span moet bly nie.

“Ek is egter nogal gesteld ­daarop om dinge op my ­manier te doen. Wat die spel en afrigting betref, is dit moeilik as mense die hele tyd inmeng met goed wat ek moet verander – ook met spankeuses. Dit het by ’n punt gekom waar dit net te veel raak en dit is ongelukkig wat hier gebeur het.”

Sekere bewerings in die media het hom dwars in die krop gesteek. “Die bewerings dat ek weens geld en bonusse bedank het, is ’n leuen. Ek was deurgaans tevrede met my salaris en vergoeding. Dit maak my woedend as mense nie hul feite regkry nie. Mense beweer ek is by die vrouespan weg net soos wat ek Rassie en die Springbokke twee weke voor die Wêreldbeker ‘in die steek gelaat’ het.

Swys de Bruin vroeër vanjaar by ’n oefening in Stellenbosch.
Swys de Bruin vroeër vanjaar by ’n oefening in Stellenbosch. Foto: Ashley Vlotman, Gallo Images.

“Ek het die Springbok-kamp verlaat weens mediese redes en as gevolg van ’n gevorderde geval van totale uitbranding, wat hemelsbreed verskil van my redes vir verlede week se bedanking.”

Ten opsigte van die toekoms het De Bruin gesê: “Hoewel alles nog bevestig moet word, gaan ek afrigters by Boishaai oplei. Ek gaan ook met die skool se rugbystrukture help.”


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos