Uber raak ontslae van baie personeel

,
Die vervoerreus Uber tydens ’n veldtog.
Die vervoerreus Uber tydens ’n veldtog. Foto: Facebook/Uber.

Die vervoerreus Uber het onlangs aangekondig dat ongeveer 10% van sy arbeids­mag uit diens gestel gaan word as deel van ingrypende organisatoriese veranderinge.

Dara Khosrowshahi, die uitvoe­rende hoof, het in ’n skrywe aan werknemers bevestig dat die maatskappy beoog om sy bedrywighede te “vereenvoudig en te versnel”.

Uber, wat tans sowat 34 000 mense in meer as 70 lande in diens het, wil met hierdie stap koördinasievertragings uitskakel.

Altesame 3 400 poste is in die gedrang.

Volgens die maatskappy sal ’n skraler organisasie lei tot “duideliker verantwoordelikhede en vinniger besluitneming”.

Die herstrukturering fokus onder meer op die konsolidering van sy afleweringsafdelings, wat restaurant- en kleinhandel­-be­sendings insluit.

Die maatskappy het terselfdertyd aangekondig dat hy sy bedrywighede in Nigerië en Uganda staak nadat hy vroeër vanjaar reeds aan Tanzanië onttrek het.

Ontleders by Wedbush Securities raam dat hierdie besnoeiings Uber sowat R27 miljard kan bespaar, wat weer in groei­gebiede belê sal word.

Verder beplan die maatskappy om poste in sleutelspilpunte te konsentreer, met globale spanne wat hoofsaaklik in New York en San Francisco gesetel sal wees.

Slegs sowat 1% van werknemers sal in die toekoms toegelaat word om van buite die kantoor oor ’n afstand te werk.

Beleggers het positief op die nuus gereageer.

Uber se aandele op die Amerikaanse aandelebeurs het Woensdag verlede week teen middagete met meer as 2,5% gestyg.


Kategorieë: ,

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos