Duur kaartjiepryse om rugbywedstryde by te woon, sluit groot dele van die Suid-Afrikaanse bevolking uit.
Praktiese oplossings is dus nodig om te verseker dat die Springbokke se rol as samesnoerende faktor nie net simbolies is nie, sê Breyton Paulse, voormalige Springbokspeler.
Paulse sê: “Dit maak my hart warm dat Rassie (Erasmus) so emosioneel geraak het oor die kaartjies. Dit is meestal nie in bestuur of spelers se hande om daardie besluite te maak nie,” sê hy met verwysing na die koste van kaartjies.
Dit volg nadat Erasmus, die Springbok-afrigter, op ’n mediakonferensie ná verlede naweek se Bokoorwinning teen die All Blacks by die FNB-stadion gesê het hy wat Rassie is, is “ongelooflik emosioneel”.
“Want ek wou hê ons moes na Soweto kom en dit [rugby] na die mense toe neem. Toe dink ek: O, toe ons hier aankom, het hulle nie die geld om die stadion binne te gaan nie.”
Hy het verwys na van die Soweto-ondersteuners wat agter die Springbokke se bus aangehardloop het, maar nie na die wedstryd kon kyk nie.

Paulse waarsku rugby moet versigtig wees om nie sy gewone ondersteuners te verloor nie. “Ek verstaan ons leef in moeilike omstandighede met baie finansiële stres, maar moet versigtig wees om nie die massas af te skrik nie.”
Paulse meen die prysstruktuur vir die Soweto-toets het vir baie Suid-Afrikaners eenvoudig buite bereik gelê. “Ek is amper seker hierdie pryse is net vir RGR (Rugby’s Greatest Rivalry), want geen gemiddelde Suid-Afrikaner sal hierdie pryse kan bekostig nie
“Hierdie span verenig Suid-Afrika, dus is dit belangrik om mense tegemoet te kom. As almal besef dat kaartjies te duur is, kry borge bymekaar en vind ’n manier om ’n oplossing te kry – selfs al is dit om 5 000 kaartjies of so aan minderbevoorregtes te gee.”

Mallett se waarskuwing van 2000
Die huidige debat herinner aan die omstredenheid in 2000 oor Nick Mallett, toe Springbok-afrigter. Mallett het openlik kritiek uitgespreek oor kaartjiepryse vir ’n Drie Nasies-toets teen Australië in Durban. Kaartjies het R300 gekos, toe ’n enorme bedrag vir die gemiddelde Suid-Afrikaner.
Hy het Saru daarvan beskuldig dat hy deur hoë pryse lojale ondersteuners uitsluit.
Mallett is daarna aan ’n tugverhoor onderwerp en het op 27 September 2000 as Springbok-afrigter bedank nadat ’n finansiële skikking van R1,25 miljoen bereik is.
- Lees die volledige berig oor dié kwessie in Die Papier, wat nou op die rakke is.
- Huisaflewering is ook beskikbaar deur On the Dot te e-pos by diepapierintekening@onthedot.co.za of te bel by 087 353 2191.
- ’n Elektroniese koerant kan ook gekoop word by op diepapier.co.za of by Magzter.
