Springbokkaptein Siya Kolisi sê hoewel die span ’n desperate vertoning van die All Blacks in Saterdag se beslissende wedstryd van die Greatest Rivalry-reeks in Baltimore verwag, word hul motivering om met ’n oorwinning weg te stap en die trofee te beklink aangevuur deur die begeerte om hul ondersteuners trots te maak.
As verdere inspirasie vir die span sal die wedstryd ook Rassie Erasmus se 100ste toets in sy twee rolle by die Springbokke sedert sy aanstelling in 2018 merk, naamlik as hoofafrigter en direkteur van rugby.
“Ons wil beslis die reeks wen,” het Kolisi gesê.
“Ons wil nie gelykop speel nie, en dit was ons ingesteldheid die hele week. Die All Blacks het nuwe spelers ingebring en ons moes kyk wat hulle anders na die wedstryd hierdie naweek kan bring, daarom het ons ons huiswerk gedoen.
“Maar die belangrikste vir ons sal wees om ons spel op hulle af te dwing en fisiek op die dag op te daag.
“Ons het almal in die afgelope drie wedstryde gesien dat as jy nie op jou beste is nie, hulle die vermoë het om jou daarvoor te straf. Maar ons ook, en ons wil seker maak dat ons aanhou om ons mense trots te maak.”

Kolisi glo die omvang van dié reeks is van kardinale belang.
“Ons groei en leer soos ons aangaan, want dit is ’n moeilike reeks en ons speel vier keer agtereenvolgens teen dieselfde teenstander.
“Hulle leer jou ken en jy leer hulle ken, so jy moet ander maniere en ander swakhede probeer vind. Hierdie week speel ons byna teen ’n nuwe All Blacks-span in vergelyking met verlede week, en Richie Mo’unga bring ’n ander dinamiek, so dit kan anders wees as die vorige wedstryde.
“Volgens my ervaring raak dit nie moeiliker as dit nie. Dit is soos om vier Rugbywêreldbeker-eindstryde in net soveel weke te speel, gegewe die gehalte van albei spanne. Ons wil albei ons eie speelstyl op die wedstryd afdwing.
“Ons mag dalk in die reeks voorloop, maar ons weet hulle is desperaat om dit gelyk te maak, daarom wil ons seker maak ons rond dit môre behoorlik af.”
- Afskop in Baltimore is om 23:00 (SA tyd).
