Curriebeker-eindstryd: Whitehead wéér briljant, Griekwas klop Pumas om trofee by die huis te hou

George Whitehead. Foto: Dirk Kotze, Gallo Images.
George Whitehead. Foto: Dirk Kotze, Gallo Images.

Dit is ’n eindstryd wat gekenmerk sal word deur harde duikslae, briljante aanvallende spel én losskakels wat wéét hoe pale toe te korrel.

Hoewel die telling vir groot dele van die wedstryd gelykop was, is dit die Griekwas wat voor 8 500 toeskouers by Suzuki-stadion in Kimberley met die louere weggestap het.

Griekwas-losskakel George Whitehead is as die speler van die wedstryd benoem.

Die laaste drie jaar is die Curriebeker-eindstryd in Vrystaat en Johannesburg gespeel. Dit was dus duidelik dat die toeskouers by hierdie jaar se eindstryd in Kimberley uitgehonger was om hul span te sien wedywer vir die beker ná hulle verlede jaar in Ellispark die Leeus geklop het om met die louere weg te stap.

Dit was sommer vinnig duidelik dat tuisveldvoordeel ’n spreekwoordelike sestiende speler vir die Griekwas sou wees. Met die eerste omkeerbesit wat by ’n lynstaan plaasgevind het, kon ’n mens die skare by die Suzuki-stadion soos een man hoor skree.

Hoewel die Griekwas die eerste paar minute van die wedstryd oorheers het, kon hulle net nie ’n drie aanteken om hul goeie aanvalle spel te versinnebeeld nie. Ná 10 minute moes hulle slegs met ’n strafskop van Whitehead gelukkig wees.

Die Griekwas het die Curriebeker-toernooi twee jaar agtereenvolgens gewen.
Die Griekwas het die Curriebeker-toernooi twee jaar agtereenvolgens gewen. Foto: Facebook/GriquasRugby.

Hul voorsprong is egter in die 13de minuut uitgevee toe Jaycee Nel die bal onderskep het om Pumas-vleuel Darren Adonis oor die doellyn te stuur. Ná 15 minute se speeltyd was dit 7-3 in die Pumas se guns.

Griekwas se senter Mnombo Zwelendaba bars egter deur die verdediging in 20ste minuut om sy span 10-7 voor te laat loop, ná Whitehead die drie verdoel het.

Teen die 25ste minuut het ’n strafskop die spanne 10-10 gelykop op die telbord gehad.

Slegs een strafskop van Pumas-losskakel Clinton Swart het nog drie punte by die telling gevoeg om die Pumas met 13-10 te laat voorloop met halftyd. Maar beide spanne het die bal oor die doellyn verloor in die laaste 10 minute om geleenthede vir ’n drie te vermors.

Anders as die eerste helfte was dit dié keer die Pumas wat meer dominant begin het toe die spel weer begin is. Maar soortgelyk aan die eerste helfte, was verspeelde kanse weer in die kollig.

Briljante aanvallende spel van beide spanne kon net nie op die telbord geld word nie. Met 20 minute speeltyd oor was dit slegs ’n strafskop van Whitehead wat die telling weer op 13-13 gelykop kon bring.

In die 69ste minuut was dit weer Whitehead se skopskoen wat ’n strafskop van bykans 55 meter deur die pale geklits het om die Griekwas met 16-13 te laat voorloop. Skaars ’n minuut later was dit Swart se beurt om dit wéér gelykop te maak. Dié keer op 16-16.

’n Briljante 50-22-skop is met ’n drie deur die voorspelers ná ’n lynstaan beloon om die Griekwas met 23-16 te laat voorloop. ’n Eindtelling wat beslis gewys het hoe naby dié wedstryd wel was voor dit in die laaste minute beslis is.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos