’n Warm bord kos, ondersteuning vir kinders met gestremdhede of ’n geleentheid vir jong sporttalent: in VIA se nuwe reeks Tafel-toere ontdek Francois Jacobs hoe mense regoor Suid-Afrika ’n verskil in hul gemeenskappe maak.
Dié reeks van vyf episodes, wat deur Round Table en SANBS moontlik gemaak word, begin op 16 September en word Woensdae om 18:00 op VIA uitgesaai.
In Tafel-toere reis Jacobs saam met Round Table Southern Africa na verskillende dorpe en gemeenskappe om hul mooi én hul uitdagings te leer ken.
Elke episode begin by dit wat ’n plek besonders maak, voordat dit die aandag vestig op ’n plaaslike behoefte en die mense wat reeds werk om daarin te voorsien. Jacobs kyk nie bloot van die kantlyn af nie: hy spring self in, help met die projekte en ontmoet die mense wie se lewens daardeur geraak word.
Vir Jacobs, wat kykers grootliks as akteur ken, was die reeks ’n kans om sy belangstelling in aanbiedingswerk verder uit te leef én meer oor Round Table se werk te leer. Hy het reeds as tiener gewonder wat dié organisasie doen. Nou kon hy dit van naderby beleef.
“Dit het my werklik diep getref om te sien hoe hulle die gemeenskap help,” sê hy.

Die reis neem kykers onder meer na die Oos-Kaap, waar ’n jagkompetisie en ’n toer met ou motors wys hoe stokperdjies ook geld vir gemeenskapsprojekte kan insamel. Vir Jacobs lê die waarde juis daarin dat mense iets waarvan hulle hou, gebruik om ander te ondersteun.
“Die feit dat mense ietsie lekkers kan kombineer en in die proses vir die gemeenskap self iets kan teruggee, was vir my regtig ’n mooi en verrykende ervaring.”
In die Wes-Kaap besoek die span onder meer ’n projek wat honderde mense weekliks van warm kos voorsien, asook ’n projek wat mense met swak sig help. Die sopkombuis het ’n besonder diep indruk op Jacobs gemaak. Hier werk Round Table, boere en gemeenskapslede saam om groente, vleis, brood en ander benodigdhede bymekaar te maak.

“Met hierdie sopkombuis het ek regtig ’n traan gepik,” sê hy.
Dié besoek het hom opnuut bewus gemaak van hoeveel gesinne sukkel om kos op die tafel te sit, en hoeveel ’n enkele maaltyd kan beteken.
In Welkom besoek Jacobs die Amari Skool. Die reeks maak ook ’n draai by ’n plek wat kinders en jong volwassenes met Down-sindroom ondersteun. Die toewyding van die mense wat dié ondersteuning bied, en die aandag aan daaglikse vaardighede wat ander maklik as vanselfsprekend aanvaar, het hom aangegryp. By Amari was die skoolkonsert ’n hoogtepunt wat ook die leerders se talent na vore gebring het.
Van Pretoria tot Polokwane ontmoet die span verder mense wat ander help om ná groot verlies weer ’n begin te maak, en jong talent ondersteun. In Polokwane hoor Jacobs van ’n skool se jaarlikse fondsinsamelings vir kinders wat nie skoolbywoning kan bekostig nie — onder hulle talentvolle netbal- en rugbyspelers wat op nasionale vlak meeding.
Deur dié ontmoetings vertel Tafel-toere die verhale van mense wat plaaslike behoeftes raaksien en iets daaraan doen. Dit is ’n reis deur Suid-Afrikaanse dorpe, maar ook ’n blik op wat moontlik word wanneer ’n gemeenskap saamwerk.

- Kyk Tafel-toere vanaf 16 September, Woensdae om 18:00 op VIA. Die reeks bestaan uit vyf episodes en word deur Round Table South Africa en SANBS moontlik gemaak.
