Agt ontbinde liggame in massagrafte by onwettige myn gevind

Onwettige mynbedryf in Ecuador het lewens van 8 geeïs. Foto: X/T13
Onwettige mynbedryf in Ecuador het lewens van 8 geeïs. Foto: X/T13

Ecuadoriaanse owerhede het Sondag agt ontbinde liggame in massagrafte by ’n onwettige myn in die suidelike provinsie Azuay gevind, wat onder ’n noodtoestand verkeer, het die polisie gesê.

Die Suid-Amerikaanse land sukkel om ’n vlaag van geweld hok te slaan ondanks president Daniel Noboa se streng optrede teen georganiseerde misdaad. Bendes, waaronder Los Lobos, veg om beheer oor internasionale kokaïenhandelsroetes en mynneerslae.

Die Wolwe

Een van die land se grootste kriminele organisasies, Los Lobos (Die Wolwe) bestaan uit meer as 8 000 lede en is veral in hierdie deel van die land by onwettige mynbedrywighede betrokke. Dit is ’n splintergroep van die Los Choneros-dwelmkartel.

Los Lobos was deur Wilmer Geovanny Chavarría Barré aangevoer. Landwyd het hy as “Pipo” bekend gestaan.

In 2021 het Pipo ’n hartaanval geveins om die owerhede te ontduik en hy het in Europa ’n vals identiteit aangeneem en voortgegaan met georganiseerde misdaad. Hy is later deur die Spaanse polisie in Málaga in hegtenis geneem.

Op 28 September 2021 het ’n dispuut tussen Los Lobos en Los Choneros in die Litoral-gevangenis in Guayaquil tot ’n oproer gelei waarin 123 gevangenes dood en meer as 80 beseer is. Dit was die dodelikste tronk-oproer in Ecuador se geskiedenis.

Op 4 April 2022 het onluste in die Turi-gevangenis in Cuenca uitgebreek, waarin minstens 20 gevangenes dood is. Alexander Quesada, die leier van Los Lobos vir interne faksie-koördinasie en tronkgebaseerde operasies, en Marcelo Anchundia, die leier van die mededingende bende R7, was volgens berigte agter die oproer.

Op 9 Mei 2022 is minstens 44 gevangenes dood en meer as 100 het daarin geslaag om te ontsnap ná ’n oproer in die Bellavista-gevangenis in Santo Domingo.

Ángel Esteban Aguilar Morales (oftewel “Lobo Menor” of “Little Wolf”) word op sy beurt gekoppel aan internasionale dwelmhandel. In 2023 was hy gekoppel aan die sluipmoord van die Ecuadoriaanse presidentskandidaat Fernando Villavicencio. Hy is in Mexiko-stad vasgetrek en via Columbië aan Ecaudor uitgelewer.

Brutale gevegte tussen bendes om beheer oor die onwettige goudmynbedryf te bekom, is aan die orde van die dag. Soos ook slagtings soos hierdie.

Die owerhede het die liggame in twee massagrafte in die munisipaliteit Pucara gevind, waar onwettige goud- en kopermynbedrywighede die afgelope jare uitgebrei het namate die Los Lobos-bende beheer oor die gebied verkry het.

Die liggame was “sowat twee meter diep begrawe”, met hul hande vasgebind, en het “beserings soos ontbinding en onthoofding” getoon wat met ’n kapmes toegedien is, het die hoof van die plaaslike polisie, Pablo Inga, aan die media gesê.

Voorlopige ontleding het getoon dat die liggame sowat twee dae lank begrawe was. Die slagoffers se identiteit moet nog bevestig word. Verskeie inwoners het intussen aangeduid dat van hul familielede vermis word.

Geen permitte

Die myn het nie oor die nodige bedryfspermitte beskik nie, het die polisie gesê. Beamptes het die afgeleë gebied bereik nadat hulle berigte van geweervuur ontvang het.

Van veilige land tot brutale geweld

Ecuador het binne enkele jare van een van Suid-Amerika se veiligste lande tot ’n spilpunt vir kokaïenhandel ontwikkel en word geteister deur bendes met bande met Mexikaanse en Colombiaanse kartelle.

Die land het verlede jaar ’n moordsyfer van byna 51 moorde per 100 000 mense aangemeld.

Azuay is een van 10 provinsies wat sedert Junie onder ’n noodtoestand verkeer weens die toename in gewapende geweld.

Sedert Noboa in 2023 die amp aanvaar het, het hy gereeld noodtoestande afgekondig om bendes te bekamp, hoewel menseregtegroepe gekla het oor beweerde misbruik deur veiligheidsmagte.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos