All Blacks-hoofafrigter Dave Rennie het sy mening gegee oor wat hy as tydmors in internasionale rugby beskou en terselfdertyd ’n skelm stekie na die Springbokke en Suid-Afrikaanse spanne uitgedeel.
Die All Blacks het Dinsdag hul tweede wedstryd van die Greatest Rivalry-reeks gewen toe hulle die Sharks met 54-0 in Durban geklop het in ’n wedstryd wat hulle van begin tot einde oorheers het.
In die aanloop tot die wedstryd het Rennie laat blyk dat Nieu-Seeland met die skeidsregters sou praat om tydmors te beperk en die tempo van die spel te versnel.
“Dit is die vraag wat ons gaan vra. Ons sal later vandag terugvoer aan die wedstrydbeamptes gee as deel van ons voorbereiding vir die Sharks ook,” het Rennie toe gesê.
Daar bestaan oorsee, veral op sosiale media, die persepsie dat die Springbokke tyd mors.
Volgens Rennie gebruik spanne soms doelbewus tydmors as ’n taktiese hulpmiddel, en hy meen veral die opstel vir lynstane neem te veel tyd uit die wedstryd.
Aangesien sy span tans in Suid-Afrika toer, was dit duidelik op watter span hy gesinspeel het: die Springbokke.
“As hulle spelers op die grond kan laat lê en die lengte van die onderbreking kan beïnvloed, dink ek die wedstrydbeamptes sal verstaan dat dit takties is en ons laat speel,” het Rennie gesê.
“Daar is ook tans ’n duidelike neiging in wêreldrugby dat elke keer wanneer daar ’n lynstaan is, spanne rondom die bal saamdrom en ’n groot bespreking hou. Dit neem baie lank voordat die spel weer aan die gang kom.
“Histories is dit streng deur skeidsregters bestuur en onder druk geplaas, en ons sal graag weer so iets wil sien.”
