ANC-opvolgstryd sypel orals in: Dié watertrappery raak SA

Fikile Mbalula.
Fikile Mbalula. Foto: Facebook.

Die ANC se faksiegevegte woed al hoe feller voor die 2027-leierskonferensie en adj. pres. Paul Mashatile kry reeds meer slae as waarvoor hy waarskynlik gehoop het.

Mashatile bly een van die voorste name in die stryd om pres. Cyril Ramaphosa in Desember volgende jaar as president van die ANC op te volg.

In die ander kamp is Fikile Mbalula, ANC-sekretaris-generaal, wat self sy oog op die topposte het, asook Patrice Motsepe, miljardêr-sakeman en Ramaphosa se swaer, wat steeds ten sterkste ontken dat hy ook tot die stryd toegetree het.

Die bloeddorstigste stryd tussen Mbalula en Mashatile speel hom grootliks af in Gauteng, die ANC se politieke swaartepunt. Eers het die nasionale leiers by Panyaza Lesufi se provinsiale regering ingegryp, enkele maande nadat die ANC ’n loesing in die verkiesing in 2024 gekry het. Die provinsiale regering is ontbind en ’n provinsiale taakspan is aangestel om sake namens die ANC in Gauteng te bestuur.

Dit was ’n duidelike teken dat Luthuli-huis, met Mbalula in die sekretaris-generaal se stoel, maar min vertroue het in die Gauteng-leiers onder leiding van Lesufi, wat Mashatile voorheen in die openbaar gesteun het.

Adjunkpresident, Paul Mashatile.
Adjunkpresident, Paul Mashatile. Foto: Facebook.

Dit lyk nou of die ANC in Gauteng die plaaslike verkiesing met tussentydse leiers sal moet binnegaan. Die nasionale leiers het volgens berigte gesê die provinsiale konferensie mag eers ná die verkiesing gebeur.

Vir iemand soos Mashatile maak dit saak, want dit verswak sy magsbasis. Boonop beheer Mbalula die takke en streke en uiteindelik sal die takafgevaardigdes die topsewe kies.

In Februarie het Mashatile sommer twee houe van die president ook gekry. Eers het Ramaphosa, wat graag tot 2029 die president van die land wil bly, versuim om sy adjunk in die openingsgroeteboodskap te noem, soos wat jaar na jaar die gebruik is. Op sigself kon dit soos ’n onskuldige fout gelyk het.

Maar in dieselfde toespraak het Ramaphosa toe aangekondig dat hy ’n nasionale waterkrisiskomitee op die been gaan bring en dit self sal lei. Dit was nie bloot ’n administratiewe aanpassing nie. Dis ’n ooglopende klap in die gesig van Mashatile, wat twee jaar gelede oor die watertaakspan aangestel is om die waterkrisis op te los.

Ramaphosa het met hierdie skuif twee boodskappe gestuur.

Die eerste was prakties: Die bestaande plan om die waterkrisis te bestuur, werk nie. Die tweede was polities: Die president en dié in sy kring vertrou nie meer die persoon wat daardie plan moet dryf nie. ’n President wat sy adjunk volkome vertrou, haal nie sommer ’n hoërisiko diensleweringskrisis uit sy hande nie.

Hy doen dit wanneer die politieke koste van mislukking te hoog raak, of wanneer die adjunk te veel onafhanklike mag begin opbou.

En dis waar die groter gevaar vir gewone Suid-Afrikaners lê.

Wanneer die ANC se opvolgstryd begin insypel in die bestuur van water, provinsiale stabiliteit en plaaslike regering, is dit nie meer net ’n interne partysage nie. Dan raak dit ’n regeringsprobleem met regstreekse gevolge vir gewone mense.


Kategorieë:

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie