ANC voor die DA danksy vrouekiesers

Sy Mamabolo, hoofkiesbeampte van die Verkiesingskommissie, tydens ’n perskonferensie.
Sy Mamabolo, hoofkiesbeampte van die Verkiesingskommissie, tydens ’n perskonferensie. Foto: Sharon Seretlo, Gallo Images.

Vrouekiesers se steun aan die ANC is die rede dat dié party nog op nasionale vlak voorloop.

Dít is een van die belangrikste bevindings in ’n nuwe meningspeiling deur die Instituut vir Rasseverhoudinge (IRR), wat steun vir politieke partye onder mans en vroue tussen 2021 en 2026 vergelyk het.

Die IRR het dié peiling Maandag vrygestel.

Volgens die peiling steun 37% van vroue die ANC, teenoor 26% wat die DA steun. Onder mans is die verskil kleiner, met mans wat 27% steun aan die ANC en 26% aan die DA uitmaak.

Volgens die IRR beteken dié verskil dat sowat 94% van die ANC se nasionale voorsprong bo die DA in sy peiling uit die party se sterker steun onder vroue spruit.

“Sonder sy voorsprong onder vrouekiesers sou die ANC en die DA in aanloop tot die plaaslike regeringsverkiesing in November 2026 in wese gelykop wees,” lui die verslag.

Dit beteken egter nie vroue bly lojaal aan die ANC nie. Vrouesteun vir die party het sedert 2021 met sowat 18 persentasiepunte, van 55% tot 37%, gedaal. Onder mans het ANC-steun in dieselfde tydperk met 17 punte, van 44% tot 27%, afgeneem.

Die tempo waarteen vroue die ANC verlaat, is dus byna dieselfde as onder mans.

Die DA lyk meer gebalanseerd wat gender betref. Die party staan vanjaar op 26% onder vroue én mans.

’n Verkiesingsplakkaat van die EFF in Thohoyandou.
’n Verkiesingsplakkaat van die EFF in Thohoyandou. Foto: Gallo Images.

Die EFF, MK-party en IVP vaar almal effens beter onder mans: 11% van mans steun die EFF, met 10% van vroue, 13% van mans steun MK teenoor 9% van vroue, en 9% steun die IVP teenoor 5% van vroue.

Die IRR het probeer vasstel waarom die ANC se oorblywende steunbasis sterker onder vroue is. Volgens die verslag bied ras, woonplek, tevredenheid met lewensomstandighede en ’n moontlike voorkeur vir welsyn nie op hul eie ’n voldoende verklaring nie. Die rede is eerder vroue se ekonomiese blootstelling en die impak van politiek op huishoudelike sekerheid.

Van vroue wat hul huishoudelike inkomste aangedui het, het 80% in 2026 in huishoudings met minder as R8 000 per maand gewoon, teenoor 70% van mans. Net 28% van vroue het gewerk of het hul eie besigheid gehad, teenoor 36% van mans. Vroue was ook meer geneig om nie matriek te hê nie.

Die verskil kom ook na vore in die probleme wat kiesers prioritiseer. In 2025 het 25% van vroue die mishandeling van vroue of kinders as een van hul twee belangrikste uitdagings genoem, teenoor 8% van mans. Ongeveer 15% van vroue het behuising as ’n prioriteit genoem, teenoor net 3% van mans.

In 2026, toe respondente een hoofprioriteit of probleem moes uitsonder, het 12% van vroue die mishandeling van vroue of kinders genoem, terwyl net 8% van mans dit as ’n hoofprioriteit bestempel het. Gesondheidsorg en dienslewering het ook swaarder onder vroue geweeg.

Geordin Hill-Lewis, leier van die DA.
Geordin Hill-Lewis, leier van die DA. Foto: Facebook/DA.

Dié kwessies weeg dikwels swaarder onder ANC-kiesers as DA-kiesers. Die ANC het hom oor die afgelope drie dekades daarop geroem dat hy miljoene Suid-Afrikaners se toegang tot behuising en basiese dienste uitgebrei het, en het dié prestasies lank as deel van sy politieke aanspraak op kiesersteun voorgehou.

In 2026 het 11% van ANC-ondersteuners die mishandeling van vroue of kinders geprioritiseer, teenoor 6% van DA-ondersteuners, terwyl dienslewering die eerste prioriteit vir 7% van ANC-kiesers en 3% van DA-kiesers was.

Die IRR waarsku egter teen die gevolgtrekking dat vroue bloot groter afhanklikheid van die staat verkies. Sowat 82% van vroue het in 2026 gesê die regering moet eerder op werkskepping as maatskaplike toelaes fokus, waar dit 84% van mans se oortuiging was.

  • Die 2026-opname is van 9 tot 20 Maart onder 1 038 geregistreerde kiesers gedoen, waaronder 500 vroue en 538 mans. Die IRR het selfoonnommers ewekansig geskakel en telefoniese onderhoude gevoer. Die foutspeling is plus of minus drie persentasiepunte. Die vorige peilings het uit 633 respondente in 2021, 607 in 2022, 604 in 2023, 604 in 2024 en 807 in 2025 bestaan.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos