Die Thailand se polisie het ’n Australiese man in hegtenis geneem nadat die naakte liggaam van ’n 17-jarige meisie in ’n tas by die bekende drywende mark in Pattaya gevind is. Die verdagte, wat enige betrokkenheid by die tiener se beweerde ontvoering en moord ontken, is ná ondervraging in die kusoord Pattaya in hegtenis geneem.

Ondersoekers wag op die uitslae van ’n nadoodse ondersoek en ander bewyse voordat formele aanklagte aanhangig gemaak word.
Die moontlike aanklagte sluit in:
- Ontvoering van ’n minderjarige;
- Moord;
- Wegsteek van ’n lyk; en
- Ontvoering van ’n minderjarige vir seksuele doeleindes.
Volgens mediaberigte is die 46-jarige verdagte Vrydag by Suvarnabhumi Airport in Bangkok in hegtenis geneem terwyl hy probeer het om met Jetstar na Perth te vlieg.
Beeldmateriaal van kringtelevisiekameras toon glo dat die verdagte en die 17-jarige Thaise meisie vroeg Donderdagoggend hand-aan-hand saam ’n woonstel in Pattaya binnegegaan het.

Hy het etlike ure later alleen uit die gebou gekom met ’n groot swart tas wat hy op die agterkant van ’n motorfiets na ‘n spoorweggebied sowat 4,2 km verder vervoer het.

Die polisie het die tas Vrydag naby ’n spoorlyn gevind, met die meisie se liggaam daarin. Volgens berigte het die liggaam tekens van geweld getoon. Die verdagte het ook krapmerke aan sy nek en arms gehad wat die polisie vermoed hy tydens die voorval opgedoen het.

‘n Woordvoerder van die Australiese departement van buitelandse sake en handel het bevestig dat die departement konsulêre bystand aan die man bied, en het bygevoeg dat vanweë verpligtinge rondom privaatheid, kan daar geen verdere kommentaar gelewer word nie.
Die verdagte*
Die verdagte se naam is pas deur nine.com.au bekendgemaak. Simon Peter Carman van Ballarat is die persoon wat in hegtenis geneem is vir die moord van die 17-jarige meisie.
Hy beweer sy het uit sy hotelkamer verdwyn terwyl hy geslaap het.
“Ek voel sleg oor wat met julle dogter gebeur het. Dit was buite my beheer. Ek weet julle gaan hartseer, ontsteld wees. Nes ek,” het hy in ‘n video-opname deur die polisie gemaak, gesê.
*Hierdie brokkie is bygewerk na die verskyning van die oorspronklike artikel.
Nuwe visumreëlings vir toeriste
Thailand het verlede maand die duur van visumvrye verblyf vir toeriste verkort ná ’n reeks hoëprofiel-inhegtenisnemings van buitelanders wat met dwelmmisdade, mensehandel vir seksuele uitbuiting en die bedryf van ongelisensieerde ondernemings verbind is.
