Bek-en-klou: Inentings nie al wat tel, sê kenners

’n Inspuiting word gereed gemaak om vee teen bek-en-klouseer in Fisantekraal in Kaapstad in te ent.
’n Inspuiting word gereed gemaak om vee teen bek-en-klouseer in Fisantekraal in Kaapstad in te ent. Foto: Gallo Images.

Diere wat vroeër vanjaar teen bek-en-klouseer (BKS) inge­ënt is, moet binnekort weer opvolg- of skraagdosisse kry om hul immuniteit op te bou, sê ­Andrew Morphew, ’n kommersiële melkboer en woordvoerder van FMD Response SA.

Dit is een van die redes hoekom die BKS-krisis nog nie verby is nie, al kan boere deesdae self die entstof teen dié siekte bekom.

Morphew sê 17 miljoen dosis­se entstof is tot dusver vanjaar verkry en sowat 8,2 miljoen beeste is reeds ingeënt.

Willie Aucamp, die minister van landbou, het aan Die Papier gesê sedert 1 Julie is nog sowat 10 miljoen dosisse entstof verkry of bestel. Dit sal die totale getal entstofdosisse wat tot dusver verkry is, teen einde Augustus op 23 miljoen te staan bring. Volgens Aucamp beteken dié getalle dat entstof nou wyd versprei kan word en dat daar nie ’n wagtydperk is nie. “As ’n boer nou entstof benodig, kan hy dit kry.”

Entstof wat deur die private sektor ingevoer word hoef ook voortaan nie eers na Onderstepoort in Pretoria-Noord geneem te word om vandaar versprei te word nie.

“Dit het nóg ’n groot bottelnek uitgeskakel,” sê Aucamp.

Nasionale veldtog dringend nodig

Morphew sê egter die hoeveelheid dosisse entstof wat inge­voer word, sowel as die getal diere wat ingeënt is, is nie al wat tel nie. “Wat regtig tel, is hoe­veel diere immuun is.”

Die entstof beskerm diere vir ongeveer ses maande.

“Ons kort ’n gekoör­dineerde nasio­nale veldtog van twee inentings per jaar. Dis wat dosisse in ’n muur van immuniteit omskep,” sê Morphew.

Dr. Danie Odendaal, ’n veteraan-­veearts en kenner van BKS, stem saam. “Selfs al is tussen 60 en 70% van die nasionale kudde tans wel ingeënt, is daar groot gebiede waar daar nog geen inentings was nie. Entstof werk, maar ons moet die hele land se beeste ent.”

Volgens Odendaal is die meerderheid inentings tot dusver deur voerkrale, groot kommer­siële boerderye en melk- en stoetboere gedoen. Baie boere kan volgens hom nie bekostig om die entstof self te koop nie.

“Sowat 60% van kommersiële boere en 5% van kommunale ­boere kan nie gereelde inentings teen ander gevaarlike veesiektes bekostig nie. Dan praat ons nie eens van BKS nie.”

Willie Aucamp.
Willie Aucamp. Foto: Gallo Images.

Sistemiese probleme

Rolspelers in die landbou­bedryf is dankbaar vir die groter samewerking van regerings­kant sedert Aucamp op 1 Julie die minister van landbou geword het. Dit beteken egter nie alle probleme het verdwyn nie.

“Die probleme is sistemies en die meeste daarvan moet nog opgelos word,” sê Morphew.

Volgens hom moet die grondbeginsels in die stryd ook nog die hoof gebied word. “Dis dinge soos verpligte, sistematiese inenting van die nasionale kudde wat elke ses maande herhaal word. Monsters moet ook gereeld na die interna­sionale verwysings­laboratorium ge­stuur word om te bewys alles werk.”

Odendaal sê meer laboratoriums vir die toetsing van BKS-monsters is ’n dring­ende noodsaaklikheid. “Ons kort baie meer toetsfasiliteite. Dis iets wat die staat moet dryf, en die private sektor kan dan help waar hulle kan. Ongelukkig vertraag burokrasie baie van hierdie oplossings in so ’n mate dat dit nie gebeur nie.”

Geldtekort

Die stryd teen die siekte word verder deur ’n geldtekort bemoeilik.

BKS is reeds op 12 Februarie vanjaar deur pres. Cyril Ramaphosa as ’n nasionale ramp geklassifiseer, maar dit is tot nou nog nie tot ’n nasionale ramp verklaar nie.

Volgens Aucamp hou dit ernstige finansiële gevolge in vir die hantering van die krisis, aangesien geen ramphulpgeld tot dusver deur die staat aan sy departement beskikbaar gestel is nie.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos