Hoewel die landbousektor drie belangrike veldslae gewen het in die stryd teen bek-en-klouseer (BKS), is die oorlog nog lank nie verby nie.
Dis die mening van Francois Rossouw, uitvoerende hoof van die landbou-organisasie SAAI.
“Ons sal omtrent 99 000 beeste per dag moet inent om vanjaar nog die geskatte totale beeskudde teen BKS in te ent.”
Volgens Rossouw dui ’n konserwatiewe skatting daarop dat Suid-Afrika 12,9 miljoen beeste het.
“Ander bronne skat dis 14 miljoen, en nog ander meen dis nader aan 18 miljoen,” sê hy.
Dr. Danie Odendaal, ’n veteraan-veearts en BKS-kenner, bevestig dat daar geen amptelike syfers bestaan nie, omdat die staat die afgelope jare nie syfers bygewerk het nie.
Odendaal is vroeër vanjaar deur John Steenhuisen, minister van landbou, uit die ministeriële BKS-taakspan verwyder.
Hy sê onomwonde die krisis is ver van verby.

Gaan Steenhuisen na hof luister?
Landbouleiers is verlig oor die hooggeregshof in Pretoria se uitspraak vandeesweek dat entstowwe teen BKS privaat verkry en deur boere self toegedien mag word, en dat Steenhuisen nie verder mag inmeng met die wettige private invoer van BKS-entstof nie.
Sakeliga, SAAI en Vrystaat Landbou het die hof genader om uitsluitsel te kry oor boere se reg om entstof privaat aan te koop en self toe te dien.
Steenhuisen, die direkteur-generaal van landbou en die direkteur van dieregesondheid het die aansoek teengestaan.
Hulle is deur die hof gekritiseer oor hoe “heftig” hulle die aansoek teengestaan en die “vertragings in die aanhoor en beregting van die saak” wat die staat geskep het.
Hoewel die uitspraak verwelkom word, heers daar kommer in landboukringe dat die staat nie deur die hofbevel verplig word om die entstof wat reeds in sy besit is, aan boere beskikbaar te stel nie.
Steenhuisen kan moontlik ook nog teen die uitspraak appelleer. Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU Suid-Afrika, sê hy hoop dat die minister en die departement sal kies om die landbousektor te ondersteun en toe te laat om hul diere in te ent.
“Wat ons nou nodig het, is entstof in beeste.”
