’n Beweerde Britse voortvlugtige wat gesoek word vir die moord op sy vrou en twee dogters, het voor die Johannesburgse landdroshof op twee afsonderlike sake verskyn.
Ndodana Mkhanyisi (46) het in uitleweringsverrigtinge verskyn ná ’n versoek van die Britse owerhede en het ook in ’n afsonderlike saak verskyn waarin hy aangekla word van die onwettige besit van ’n vuurwapen en ammunisie.
Albei sake is tot 27 Augustus uitgestel. Die uitleweringsverrigtinge is uitgestel om die finale uitleweringsdokumentasie af te handel, terwyl die saak oor die vuurwapen en ammunisie uitgestel is vir verdere polisieondersoek.
Volgens die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) het Tshuma op 5 Julie wettig deur die O.R. Tambo-lughawe Suid-Afrika binnegekom. Sy immigrasiestatus het egter sedertdien verander weens sy status as ’n voortvlugtige. Ingevolge die Immigrasiewet word hy as ’n verbode en ongewenste persoon beskou en is hy dus onwettig in Suid-Afrika.
Inhegtenisneming in Kensington
Tshuma is op 10 Julie in Kensington, Johannesburg, in hegtenis geneem nadat die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), deur Interpol se Nasionale Sentrale Buro in Pretoria, ’n versoek van die Britse owerhede ontvang het om hom op te spoor en in hegtenis te neem. Die arrestasie het gevolg op die uitreiking van ’n lasbrief deur die Westminster-landdroshof.
Hy is tydens sy inhegtenisneming in besit van ’n ongelisensieerde 9 mm-vuurwapen gevind tydens ’n intelligensiegedrewe operasie deur Interpol en die SAPD.

Beskuldig van moord
Volgens die uitleweringsversoek word Tshuma in die Verenigde Koninkryk op drie aanklagte van moord gesoek. Hy word daarvan beskuldig dat hy sy vrou, Nothabo Zandile Tshuma (42), en hul twee dogters, Natalie (15) en Nala (5), in Bedford, Bedfordshire, vermoor het.
Die liggame van die drie slagoffers is op 6 Julie by hul woning in Carnoustie Drive in Great Denham, naby Bedford, ontdek nadat kommer ontstaan het omdat die gesin vir etlike dae nie gesien is nie. tn Forensiese nadoodse ondersoek het bevind dat hulle as gevolg van swaar houe met ’n voorwerp gesterf het.
Tydlyn van gebeure
Tshuma het na bewering die Verenigde Koninkryk op 4 Julie via Heathrow-lughawe verlaat en aanvanklik na Zimbabwe gereis voordat hy na Suid-Afrika vertrek het, waar hy op 5 Julie aangekom het.
Brittanje het op 10 Julie drie aanklagte van moord teen hom goedgekeur, dieselfde dag waarop hy in Johannesburg in hegtenis geneem is.
Tshuma, ’n Britse burger van Zimbabwiese afkoms, bly in aanhouding in Suid-Afrika hangende die uitkoms van beide regsverrigtinge.
