‘Boer soek ’n vrou’: Is daar dalk saadjies van liefde wat besig is om te ontkiem?

Gaan alleengesprekke duidelikheid bring vir Willie?
Gaan alleengesprekke duidelikheid bring vir Willie? Foto: Skermgreep.

“Vir twee harte om mekaar te vind, moet daar so min as moontlik onbeantwoorde vrae tussen die boer en sy pasmaat lê. Kan elkeen eerlik genoeg wees sodat hulle mekaar rêrig kan sien, kan hoor en kan verstaan?” was die ernstige vrae wat Reandi aan die begin van die 9de episode van die 18de seisoen van kykNET se gewilde maatsoekreeks, Boer soek ’n vrou, gestel het.

Verlede week het Jack van Hermanus sy eerste pasmaat huis toe gestuur – en dit was Lené wie se tydjie op die plaas tot ’n einde gekom het.

Daar in Tzaneen se wêrreld het Arno, die 28-jarige bosbouer, sy oorblywende twee pasmaats dieper aan sy wêrreld bekendgestel. Joanè en Rosanne moes hul eie bome plant en dit het alles onder sy bekwame leiding plaasgevind.

Arno het sy gaste touwys gemaak met die plant van bome. Foto: Skermgreep
Arno het sy gaste touwys gemaak met die plant van bome. Foto: Skermgreep

Maar gaan daar saadjies van liefde terselfdertyd geplant word? Wat wel begin groei het, was Arno se gevoel dat daar al hoe meer potensiaal vir die toekoms is. En hy gaan sy besluit met sy hart én sy kop maak…

Tydens die individuele gesprekke het daar belangrike vrae opgeduik, waaronder wat Arno se grootste vrese is en wat hy van sy toekomstige vrou sal verwag. Haaie is eerste op sy banglysie, maar oor sy toekomstige vrou het hy minder angs…

Arno. Foto: Skermgreep
Arno. Foto: Skermgreep

Die spanning het later die dag begin toeneem, want dit was tyd om Arno se vriende en familie te ontmoet. Alhoewel Arno gesê het hy laat hom nie voorsê nie, moet hy tog luister na wat die mense in sy huisgesin te sê het. Ja, het sy pa erken, hy’t klaar besluit wie by Arno gaan pas, maar die besluit berus nie by hulle nie.

Tyd om Arno se familie en vriende te leer ken. Foto: Skermgreep
Tyd om Arno se familie en vriende te leer ken. Foto: Skermgreep

Een van Arno se potensiële pasmaats se oë het net al hoe meer begin blink en sy het duidelik gevoel sy is op die regte plek – aan Arno se sy. Maar gaan dit so bly?

Daar op Reitz in die Vrystaat het JD op sy beurt weer sy twee gaste ingespan om sy lieflike Bonsmara-kudde te help voer. Lara en Leonè het heel gemaklik gelyk met die aandra van die voersakke en daar was heerlik gelag tussen alles deur.

JD begin voel wat hy voel. Maar vir wie? Foto: Skermgreep
JD begin voel wat hy voel. Maar vir wie? Foto: Skermgreep

Maar arme JD – hy moes erken dat sy kop op twee verskillende plekke was. En die individuele gesprekke het nie sake vir hom makliker gemaak nie. Maar JD het gesê aan die einde van die dag moet hy maar net die proses vertrou en wat moet wees, sal wees.

Dis darem nie net ernstige hartsake nie. Foto: Skermgreep
Dis darem nie net ernstige hartsake nie. Foto: Skermgreep

En die rede hoekom die proses vir hom spanningsvol is? “Want altwee is so blëddie oulik.”

Dan was daar nog die “oordeelsdag” wat voorgelê het want JD het gesê hy’t nog nooit sulke mooi meisies na ’n braai geneem nie. Dis natuurlik waar hulle die familie en vriende van beter gaan leer ken.

Ten spyte van die Tayla-skokaankondiging het die volgende oggend op Willie se plaas daar by Harrismith met nuwe hoop aangebreek.

Dis mos plaas! Foto: Skermgreep
Dis mos plaas! Foto: Skermgreep

Nie net vir Lezelle en Madelé nie, maar ook vir Willie se mielies waar hulle twee moes help om die swamme te bekamp.

Gelukkig was daar ’n hommeltuig wat ingespan word om dinge makliker te maak. En dit het boonop gelyk of Tayla se vertrek sake ook vir Willie en sy gaste makliker gemaak het – en hulle het gevoel of hulle eindelik die ware Willie ontmoet het. En een van die twee gaste voel of sy ’n bietjie ernstiger gevoelens begin ontwikkel. Tog voel dit of “ware Willie” rem wil aandraai…

Wie se hoop gaan volgende keer geblus word? Foto: Skermgreep
Wie se hoop gaan volgende keer geblus word? Foto: Skermgreep

Sy eie bekommernis was dat hy nog nie heeltemal seker was of hy meer vir die een as vir die ander een voel nie. Het die kuier saam met vriende en familie tog wel meer duidelikheid teweeggebring?

Kuiertyd met Willie se vriende en familie. Foto: Skermgreep
Kuiertyd met Willie se vriende en familie. Foto: Skermgreep

Een ding waaroor hulle almal eens was, was die feit dat dit hoog tyd is vir Willie om ’n maat te kry.

Willie glimlag al hoe breër. Foto: Skermgreep
Willie glimlag al hoe breër. Foto: Skermgreep

Reandi sê

“Stap vir stap begin elkeen hul mure laat sak en hul harte oopmaak. Elke tree op pad na liefde is ingewikkeld, maar die einddoel? Iets waarna elkeen van ons hunker. Net tyd sal leer of hierdie gesprekke genoeg aan elkeen se hart kon raak om ’n besluit te kan neem.”

Reandi. Foto: Skermgreep
Reandi. Foto: Skermgreep
  • Die reeks word oudergewoonte op Donderdae om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) uitgesaai.

uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk per e-pos