Theewaterskloof-munisipaliteit se kommerwekkende finansiële state aanlyn versprei

John Michels en Lincoln de Bruyn.
John Michels en Lincoln de Bruyn. Foto: Verskaf.

Finansiële state wat die misbruik van R709 830 miljoen in die Theewaterskloof-munisipaliteit in die Wes-Kaap blootlê, is onlangs in die sosiale media bekendgemaak.

Die state is op John Michels, die voormalige onderburgemeester, wat deesdae as NCC-LP in die Wes-Kaapse wetgewer dien, se Facebook-blad uitgelek.
Michels, ’n voormalige Good-leier, was deel van die PA, Good en ANC-koalisie wat die Theewaterskloof-munisipaliteit in 2024 regeer het.

Theewaterskloof is een van 69 munisipaliteite in die land wie se gelykberegtigingstoelae weerhou is. Die Nasionale Tesourie voer aan die rede vir die terughou van fondse is die voortdurende en ernstige gebrek om die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur na te kom. Briewe vir kennisname is tussen verlede maand aan die munisipaliteite uitgestuur.

Die vermorsing van geld in die Theewaterskloof-munisipaliteit het tussen 2017-2025 plaasgevind.

Enoch Godongwana, minister van finansies, het in ’n verklaring wat hy vroeër in Julie uitgereik het, gesê verwagtinge van die publiek raak al hoe meer en die kwesbaarheid van munisipale finansies en dienste is blootgelê. “Die nagevolge word daagliks deur huishoudings en besighede gevoel weens uitdagings met dienslewering.”

Theewaterskloof-munisipaliteit.
Bewys van finansiële state. Foto: Verskaf.

Lincoln de Bruyn, DA-burgemeester vir die Theewaterskloof-munisipaliteit, sê hulle is bewus daarvan dat die publiek bekommerd is oor die Nasionale Tesourie se besluit om die fondse te weerhou. Volgens De Bruyn ag die munisipaliteit die aangeleentheid as baie ernstig en is hulle ten volle daartoe toegewyd om te verseker dat die fondse aan hulle gegee word.

Hul administrasie is tans aktief besig om met die nasionale en provinsiale tesourie te kommunikeer en hulle neem alle stappe om te voldoen aan die voorwaardes en verwagtinge wat deur die Nasionale Tesourie uiteengesit is. Volgens Du Bruyn het die munisipaliteit reeds beduidende vordering gemaak in hul finansiële herstelplan.

“Ons verstaan dat ons inwoners en rolspelers bekommerd is en ons kan hulle verseker dat die munisipaliteit hierdie as ’n hoë prioriteit sien. Ons mees belangrike verantwoordelikheid is om volhoubare dienslewering aan ons gemeenskap te verseker.”

Walter Hendricks, munisipale bestuurder van die Theewaterskloof-munisipaliteit, sê die munisipaliteit gaan nie op onbevestigde inligting of bewerings wat in die sosiale media sirkuleer kommentaar lewer nie.

Michels het nie op Die Papier se navrae gereageer nie.

Wat sê die finansiële state?

  • 2017/2018 is ’n bedrag van R18 475 miljoen spandeer en word dit toegeskryf aan onreëlmatige uitgawes.
  • 2018 is R1,9 miljoen spandeer.
  • 2019/2020 ’n bedrag van R4,4 miljoen is uitgegee.
  • 2020/2021 is ’n massiewe bedrag van R301 miljoen uitgegee.
  • 2021/2022 is R262 miljoen spandeer en was dit ook ongemagtigde uitgawes.
  • 2022/2023 is nog ’n bedrag van R3,6 miljoen op dieselfde manier spandeer.
  • 2024/2025 is R116 miljoen spandeer en toegeskryf aan ongemagtigde, onreëlmatige, vrugtelose en verkwistende uitgawes.


uitgesproke artikels

Geen uitgeligte artikels beskikbaar nie.
Blaai gerus deur die nuutste berigte.

Bly ingelig

Ontvang die jongste nuus direk in jou inkassie